“Of julle betaal, of ons stuur julle terug na Rwanda,” het die amptenaar in die doeane gebou in Kigoma, Tanzanië gesê.
Ons het na hom gestaar. Ek het in trane uitgebars. Ons het so ver gekom, hiervoor? Ek het na Philippe gedraai. Hy het altyd geweet wat om te doen. Maar nou was al wat ek in sy oë kon sien, vrees.
En toe het ’n ouerige man na ons toe gestap. Hy was goed aangetrek en hy het geglimlag. Daardie glimlag het soos ’n engel vir my gelyk.
“Hallo. Kan ek julle help? Wat is hier aan die gang?”
Ek wou huil toe ek sy woorde hoor en hy ons in Kirundu groet, so naby my moedertaal. ’n Taal wat ek kon verstaan.
“Die amptenare wil nie vir ons papiere gee nie. Hulle wil ons terugstuur na Rwanda. Ons kan nie teruggaan nie. Ons sal doodgemaak word,” het Philippe hom vinnig vertel.
Toe het die man vinnig en op ’n lae toon met die amptenare gepraat. Sy stem het dringend maar ferm geklink. Ek het gesien hoe hy ’n rol geld uitneem, note daarvan geneem het, en dit oorhandig het.
Visums vir twee maande is aan ons uitgereik. Die man was ’n engel. Hy het ons lewens gered. Maar hy was nog nie klaar nie.
“My naam is Issa. Kom saam met my. Ek sal julle na my plek toe neem.”
Sy motor was ’n splinternuwe BMW. Om in die sagte en luukse kar sitplekke te sit het so onwerklik gevoel. Dit was vir ons ’n baie spesiale bederf. Ek het weer mens gevoel.
Hy het ’n groot huis met baie kamers gehad. In die aand het ek gestort. Ek het verlig gevoel toe ek die warm water laat hardloop en al die stof wat ek gedurende die lang reis versamel het, kon afwas. Ek wou nie die kraan toemaak nie.
Dit het gevoel asof ek in die paradys was. Sy vrou het vir ons kos gegee: heerlike geurige rys, vleis en groente. Ek het soos ’n koningin gevoel – en my broers was klein konings.
Die volgende dag het Issa gesê dat in stede van geld spandeer in ’n gastehuis, geld wat ons nie gehad het nie, kon ons by hulle bly maar dat ons ons eie kos moes koop en gaarmaak. Hulle sou vir ons potte leen. Ek wou hom omhels toe hy die woorde sê, maar ek was te skaam in die geselskap van sy vrou.
Daardie aand het ek ’n klop aan my deur gehoor. Ek het die luukse gevoel van lê op ’n sagte bed geniet na nagte in bome en op die grond, bang dat diere ons sou aanval. My broers was uit om te gaan kos koop.
Die deur het ’n skrefie oopgemaak en Louis het daardeur geloer. Ek het beduie dat hy moes inkom. Hy het op die rand van my bed gesit en my hand geneem. Ons het gesels, oor die reis en ons drome. Ek het hom vertel hoeveel ek my huis mis en my pa en ma en suster.
“Dink jy ek is te veel van ’n dromer? Ek dink nog steeds ek sal eendag studeer om ’n verpleegster te word,” het ek hom vertel.
“Dit sal waar word,” het hy gesê. Maar ons het albei heimlik gewonder of ons hierdie reis sou oorleef om ooit ’n toekoms te hê. “Ek wens ek het ook soveel geloof in die toekoms gehad,” het hy gesê terwyl hy my hand druk.
Die volgende oggend was ons almal op die markplein toe ’n amptenaar in uniform ons gestop het.
“ Waarvandaan kom julle?” het hy kru gevra. Dit sou moeilik wees om te jok. Die taal en die aksent sou ons weggee. My hart het soos ’n drom geklop.
“Rwanda,” het André geantwoord.
“En hoekom is julle hier? Julle is veronderstel om in ’n kamp te wees.”
“Ons het visums.” André het sy papier gewys.
“Ek steur my nie aan visums nie. Julle gaan na die kamp of terug na Rwanda. Andersinds wag die tronk vir julle.”
“Maar…” het André begin. Hy is kortgeknip.
“Daar is geen maar’s. Ons volg instruksies.”
André het in sy sak gesoek, geld uitgehaal en dit in die amptenaar se hand gedruk. Die man het geglimlag.
“Julle mag nou gaan, maar volgende keer sal ek julle nie vergewe nie.”
“ Hoeveel het jy hom gegee?” het ek André gevra toe die amptenaar weg is.
“Vyf dollar.”
“Skaamtelose diewe!” het ek gegrom.
Op ons pad terug van die mark af, het ’n ander amptenaar, hierdie keer ’n bietjie ouer, ons gestop. Hy het presies dieselfde dinge gesê en Philippe moes geld oorhandig.
“Ons moet hier weggaan,” het Philippe gesê toe ons terughardloop na die huis waar ons gebly het. “Of ons sal tronk toe gaan.” Die omkoopgeld het op geraak.
“Jy’s reg,” het ons almal saamgestem.
Dus is ons na net een week weg.
Op die Zambiese grens het ek gedink dat ons vryheid bereik het maar die immigrasie amptenaar het gesê “Gaan terug na Tanzanië of Burundi.”
“Ons kannie teruggaan daarheen nie. Ons vlug vir ons veiligheid ,” het André verduidelik.
Die amptenare het onder mekaar beraadslaag en vir ons gesê om geld te betaal. Hulle het vir ons gesê om na Lusaka te gaan na die UNCHR. Ons het dit gedoen, en die vrou daar het ons reguit na nog ’n vlugtelingkamp gestuur. My hart het gesink.
“Ek kan nie glo ons is weer terug in ’n kamp nadat ons die hele pad vanaf Mugunga-kamp in die DRK gekom het nie.”
In ’n kamp oorleef mense, hulle leef nie, was my ongelukkige gedagte.
“Dit lyk asof ons gedoem is tot ongeluk, vasgevang in sy kloue,” het André afgesluit.
Een reënerige môre waar ek eenkant op die grens van die kamp gesit het, huilend en starend na die bos, het Louis my gekry. Hy het my hand geneem, my opgehelp en teruggelei na die kamp toe.
“Ons het darem mekaar. Ons sal die storms oorleef.” ’n Groot glimlag en ’n druk van my hand het hierdie soete woorde begelei. Weereens was dit Louis wat my hoop gegee het.
***
Vertel ons wat dink jy: Wat is die gevare van ’n reis soos Odette s’n? Sal sy ’n plek kry waar sy kan bly en studeer om ’n verpleegster te word?