Die nuwe kamp was nie die einde van ons reis nie. Dit was ook nie die einde van ons swaarkry nie. Een vir een het ons vreeslike malaria aanvalle gekry.
Elke dag het my drome van ’n beter lewe, ’n nuwe lewe, verder en verder weggeraak. Dit was soos om te probeer skoenlappers vang. Ek het meer en meer begin sukkel om die besonderhede van my lewe in Rwanda te onthou, en dit het my ontstel. My broers was nie so neerslagtig soos ek gewees nie. Gelukkig het ek Louis gehad om vir my konstante troos te bied.
Ons het almal saamgestem dat ons van dié kamp moes ontsnap so gou as wat ons gesond genoeg was om te reis. Dus het ons ’n man wat die pad geken het betaal om ons te help om uit die kamp te ontsnap.
Toe het ons weer gestap.
Maar weereens, het ons in ’n kamp geëindig, want ons het nêrens anders heen gehad om na te gaan om te eet en behoorlik te rus nie. Die volgende een was Dzaleka in Malawi, wat eers ’n tronk was. Daar het ons in koshuise geslaap volgens ons nasionaliteite en aan die begin van elke maand het ons van die Rooikruishulporganisasie rantsoene ontvang om te oorleef. Ons het rys en suiker, bone, grondbone, kookolie en toiletware ontvang. Van tyd tot tyd het hulle vir ons paraffien en komberse gegee.
Selfs al was die lewe maar vaal in Dzaleka-kamp, het ons besluit om daar te bly totdat ons van ons reis herstel het en ons voete laat rus het. Ons kon nie aangaan nie. Nog nie.
Die dae het gerek in maande en die maande in jare – drie jaar.
My padspan en ek het begin skool bywoon in die vlugtelingkamp. Dit is deur vlugtelinge self gereël, met ’n paar Malawiese onderwysers. Op Saterdae het my broers en Louis die opgehoopte paraffien en komberse in die dorpies verkoop. Op hierdie manier kon ons noodsaaklikhede koop wat ons nie van die Rooikruis gekry het nie.
Elke keer as ’n nuwe groep mense in die kamp aangekom het, het ons hulle gevra of hulle van Mugunga gekom het. Ons was desperaat vir nuus van ons ma, suster en oom. Ons was nie gelukkig nie. Die meeste van die nuwe aankomelinge was van Katale, ’n ander groot vlugtelingkamp in die ooste van die DRK gedurende daardie tyd.
Toe het ek probeer om ’n boodskap aan my ma te stuur via die Rooikruisvereniging. Die kans om ’n antwoord te kry het amper nie bestaan nie.
Vier maande later, is ek ingeroep na die Rooikruiskantoor. My hande het gebewe toe die man ’n geopende boodskap aan my oorhandig het, iets wat soos ’n poskaart gelyk het. My hart het vinnig geklop en ek het probeer om ’n hoekie te kry waar ek alleen kon sit en lees. Hoe kon hierdie brief so ver reis oor die grense om in my hande te beland? Waarvandaan was dit? Wat het dit gesê? Ek het ’n diep asemteug uitgeblaas.
Ek het my ma se handskrif herken…
Kaapstad, 28 Maart 1999
Liewe kinders
Ons het in Kaapstad, Suid-Afrika een maand gelede aangekom. Ons het saam met julle oom en sy familie van Kenia af gereis. Dit was ’n lang reis maar ons het oorleef.
Bana nkunda (My liefste kinders) Ek het baie hartseer nuus vir julle. En julle sal moet sterk wees vir mekaar.
Julle vader is dood gedurende die skietery by Kigali terwyl hy probeer ontsnap het. Claver is in die skouer geskiet, maar hy het oorleef. Ek weet nie waar hy nou is nie. Julle oom Thomas het geslaag om met sy familie te ontsnap. Hulle is nog in Nairobi, Kenia. Hulle het ons daar gekry en al hierdie nuus gegee.
Wees sterk my kinders. Ons sal weer ontmoet.
Mukandutiye Valérie, Telefoon: 27 21 930 2249
Ek het daardie woorde –“julle vader is doodgemaak”– oor en oor gelees. Ek het gehuil toe ek die boodskap na my broers en Louis geneem het. Ons het in stilte gesit en toe het Philippe gepraat.
“Ons moet na Ma toe gaan. Ons moet Kaapstad toe gaan. Wat ookal gebeur, familie moet saamstaan.”
“Ek kan nie aangaan nie,” het André gesê. “Ons het geen geld nie. En die peslike padblokkades… nee, Suid-Afrika is baie ver.”
“Ons moet…” het ek gesê, terwyl ek ’n desperate behoefte gevoel het om my ma en Claire weer te sien.
En dit was die begin van die laaste, lang reis om by ons moeder en suster aan te sluit.
Vanaf Dzaleka-kamp het ons ’n bakkie geneem na Lilongwe, en toe die grens oorgesteek na Mosambiek. Gawe dorpenaars het ons kos en skuiling langs die pad gegee. Ons het van die hoofroetes afgebly aangesien ons nie die korrekte papiere gehad het nie.
Van die grens van Mosambiek na Maputo het ons ’n bus geneem. Toe ons van die bus afklim, het ons ’n uitroep van vreugde gehoor.
“Odette! André! Jy leef nog! Waar is jou ouers?” Dit was ons bure van Kigali, Ladislas en sy vrou. Ons het mekaar omhels.
“My ma is in Suid-Afrika. My pa leef nie meer nie. Hy is in Rwanda dood.”
“Nibyo? Mwihangane bana bacu. (Regtig? Wees sterk, liewe kinders.) Ons is ook oppad na Suid-Afrika. Ons kan saam reis. Daar is wagte wat ons kan betaal om ons oor die elektriese heining te kry na Suid-Afrika. Daar is taxi’s wat aan die anderkant wag en ons na Johannesburg kan neem.”
“Hoeveel sal dit kos?”
“Ons sal vir julle betaal. Ons sal julle help,” het Ladislas gesê.
“Muratubyaye,” (Julle het ons gered.) het ek gesê en hand geskud met Ladislas.
Laat daardie middag het ’n trok ons na die Manguza-grenspos geneem. Dit was donker teen die tyd dat ons daar gekom het. Toe ons nader kom, het ons ’n skare gesien wat gewag het om die grens oor te steek. Hulle het in stilte langs die heining gestaan.
Die wagte het vir ons gesê om stil al langs die heining te beweeg. Ek het ’n vrou gehelp wat ’n swaar tas, ’n baba en ’n kleuter gehad het. Ek het die baba vir haar gedra.
Ons moes gehoorsaam volg wat die wagte vir ons sou sê. Ons was gou gewoond aan algemene instruksies: “Sit! Gaan voort! Maak gou! Stadiger!”
Toe, baie skielik het die wagte gesê ons moes stop. Hulle het gesê dat ons presies vyftien minute gehad het om deur die elektriese drade te duik.
Vyftien minute vir ons almal om deur daardie heining te kom – voor die krag aangeskakel sou word en ons geskok sou word!
***
Vertel ons wat dink jy: Sal Odette en al die ouens veilig oor die grens in Suid-Afrika kom?