Toe ek wakker word en teruggeklim het in die passasiersitplek het ons in Johannesburg ingekom. Ek het baie liggies in die hoë geboue gesien en massas karre wat verby gevlieg het. Ek het nog nooit van te vore so baie motors op die paaie gesien nie. En die paaie was in ’n goeie toestand, glad nie soos die paaie vol slaggate waaraan ek gewoond was nie.

“Welkom in Jozi, Rudo. Maar wag net. Hierdie is niks in vergelyking met Kaapstad nie,” het hy gesê. “Ek is seker jy sal mal wees daaroor. Hierdie plek is te vinnig vir jou.”

Asof hy nie ook te vinnig vir my was nie. Aah madhara anonetsa, (ou mans is ’n probleem) het ek by myself gedink, en eenkant toe gekyk. Sodra ek op my eie bene staan sal ek hom verlaat, het ek gedink. Ek sal hom beslis los as ek in Kaapstad begin werk.

Ons het van die goedere afgelaai wat hy vervoer het en iets by KFC gaan koop om te eet. Hierdie keer het ek stadig geëet en Sam het ook geëet. Ons het in stilte geëet. Jy kon ’n speld hoor val. My gedagtes was vasgevang in die reis wat voor ons gelê het. Ek was regtig nou moeg omdat ek nie in ’n behoorlike bed geslaap het nie. Die bed in Sam se trok was smal en ongerieflik.

“Nog ’n duisend kilo’s en ons sal in Kaapstad wees,” het Sam gesê asof hy my gedagtes kon lees.

Ons het opgestaan en uit die KFC gegaan. Toe ons na die trok teruggeloop het, het sommige mense na ons gestaar. Trokdrywers het ’n slegte rekord gehad as vroetelpappies, maar Sam was nie so sleg nie. Dit is wat ek vir myself gesê het en wat my kop wou glo.

Sam het die trok baie behendig bestuur en ons het nie in enige van die kleiner dorpies gestop langs die pad nie, want hy het volgemaak in Jozi. Tot ons in Beaufort-Wes gekom het. Dit was ’n klein dorpie met ou geboue wat almal dieselfde gelyk het en dieselfde kleur geverf was.

“Hierdie plek lyk dood,” het ek gesê en na Sam gekyk. “Jy kan dit sien aan die manier waarop mense loop. Ek sou nie graag hier wou bly nie.”

“Dis ’n goeie dorp vir ou mense wat die lewe gesien het en hulle aftrede wil geniet.” Sam het bygevoeg, “Sommige mense geniet hierdie stil plek.”

Sam het uitgeklim om vir ons kos te koop en teruggekom met ’n plastiese sak. Hierdie keer het hy ’n behoorlike ete gebring – pap en bees stowevleis. Hy het iets gemompel waarheen ons op pad was, maar ek het nie aandag gegee nie. My fokus was op die heerlike kos voor my.

Na ’n tyd het Sam weer my wang begin streel. As hy dit gedoen het het ek geweet wat hy wou hê en dat ek dit vir hom moes gee in ruil vir sy goedheid. Hierdie keer het hy na kondome op die paneelbord gesoek, maar kon niks kry nie. Indien hy niks gehad het vir beskerming sou ek nie weer by hom geslaap het nie. Ek het stories gehoor hoe trokdrywers rokjagters was.

“Moenie bekommerd wees nie Rudo, ek is MIV-negatief,” het hy gesê, en my gesig na hom toe getrek. “Sedert my vrou en ek geskei het het ek nog nooit saam met iemand behalwe jy geslaap nie. Jy is ’n pragtige vrou en ek belowe ek sal met jou trou.”

***

Vertel ons wat dink jy: Glo jy Sam?