Jare het verbygegaan en Nomtha het nooit haar scam huwelik verlaat nie. Ek het haar in elke meisie gesoek, maar kon haar nêrens vind nie. Sy het langs my broer geslaap. In die aande het dit my mal gemaak as ek wonder of sy dieselfde simpel jokes met hom maak. Ek het gewonder of hy haar sin vir humor waardeer, of hy lag vir haar flou jokes. Ek het altyd gelag vir haar jokes, want ek was mal oor die goofy kant van haar.

My vrae het onbeantwoord gebly. Ek het op die bodem van elke bottel en in elke vrou se bed antwoorde gesoek maar dit nie gevind nie. Al het die jare verbygegaan, het my herinneringe aan haar vars gebly, want ek het haar elke Sondag by die familie-ete gesien. Ons het skelm na mekaar gekyk. Sy het met haar oë om hulp gesmeek.

Een Sondag het ons soos gewoonlik stilletjies na mekaar gekyk, toe sy met haar oë na die kombuis beduie. Ek het eerste kombuis toe gegaan en sy het my gevolg. Toe sy inkom, sit ek my arms om haar. Dit is die eerste keer in jare wat ek haar so vashou, maar dié keer is ek weerloos. Ek kan myself nie terughou nie. Ek wil haar in my arms vashou. Sy is nog dieselfde, met dieselfde geur en dieselfde awkward hugs. Sy stoot my weg van haar toe sy besef ek hou haar te lank vas.

“Ek’s jammer,” sê ek, met haar hand in myne.

“Ek is besig om dood te gaan, Lu,” sê sy. “Jou broer wil kinders hê en ek het lank gedink ek is onvrugbaar, maar toe gaan ek na die fertility clinic en vind uit die probleem lê nie by my nie. Maar elke aand maak hy ’n punt daarvan om my daaraan te herinner dat ek as vrou misluk omdat ek nie kinders kan hê nie. Soms wil ek hom die waarheid vertel, maar ek is bang. Wanneer hy so praat kry hy hierdie kyk in sy oë,” sê sy en vroetel met haar ring.

Ek probeer haar nadertrek, maar net toe ek haar in my arms wil neem, loop Ma in.

“Wat gaan hier aan?” vra Ma. Haar uitrukking sê vir my sy weet reeds. Ek loop uit die vertrek, want ek wil nie vir haar jok, of nog erger, vir haar die waarheid vertel nie.

Ek dink Nomtha het haar oor my broer se probleem vertel, maar nie oor ons twee se verlede nie, want ’n week ná ons gesprek in die kombuis, kom sien my ma en my pa se suster my.

“Luphelo mntaka bhuti, dit is tradisie wanneer een broer onvrugbaar is, dat sy broer saam met sy vrou moet slaap om kinders te verwek,” sê my tannie ernstig.

“Wat gebeur as my broer uitvind? En wat as ek my kinders wil hê?” vra ek verward.

“Dit gaan nie net oor die kinders nie; jy weet hoekom jou pa hierdie huwelik gereël het. Dis vir die besigheid, dit gaan oor meer as net julle ego’s. Dis ons familie se erfenis,” sê my tannie. Sy is die besturende direkteur van Maduna Mining en nes my pa – genadeloos in die besigheidswêreld. Sy sal enigiets doen om die sukses van die besigheid te verseker.

“Jeez! Nog ’n besigheidsooreenkoms en dis jou idee. Nie dat ek surprised is nie, jy’s nes jou broer!” sê ek vererg.

“Luphelo!” raas my ma met my. “Dis nie jou kinders nie – jy help net jou broer en dis al wat ons van jou vra,” sê sy streng.

“Sou jy dieselfde aan Pa gedoen het?”

“Luphelo sana lwam’, moet nou nie selfsugtig wees nie,” sê sy en trek my eenkant toe. Jy’t gesien hoe ontsteld Nomtha oor jou broer se optrede was – as jy dit nie vir my en Sicelo wil doen nie, doen dit vir haar. Ja, dit het implikasies vir die firma, maar dit gaan nie net oor die besigheid nie,” voeg sy sagter by. Dit is haar talent – my ma sou die duiwel kon oortuig om goed te doen met haar sagte stem.

Ek is ’n oomblik bly oor die idee, tot ek besef het dat ek my broer se huwelik in die proses sal versterk. Maar die gedagte daaraan om Nomtha weer in my arms te hê is aanloklik en my ma en tannie sal ten minste ophou om aan my te karring.

“Okei, ek sal dit doen. Ek sal dit vir Sicelo doen. Hy wil kinders hê en as ek kan sal ek hom graag wil help,” sê ek.

“Dankie. Bly weg van die drank en vroue, Luphelo. Jy moet veilig speel en na jou gesondheid kyk. Jy moet jou dieet ook verander,” het my ma gesê toe ek deur toe stap.

Toe kyk ek terug, knik en verlaat die vertrek.

***

Vertel ons: Wat dink jy van die nuwe plan wat Luphelo se ma en tannie uitgedink het?