Ma sit in die voorste ry in die kapel. Ek kan haar sien waar ek by die ander strooijonkers staan. Ek kyk na my broer. Hy is sy pa se seun, maar meer beskaafd. ’n Lang figuur met ’n donker vel en ’n sagte stem, soos Ma. Maar dis al wat hy by Ma geërf het, andersins is hy ons pa se seun. Ek is meer soos Ma. Sy is sagmoedig en sorgsaam, maar in ’n seun word daardie eienskappe as swakheid gesien. Ek kyk na Sicelo en begin wonder of dít die rede is waarom Pa hom liewer het as vir my.

Voor ek die vrae kan beantwoord, begin die troumusiek speel. Ek sien Nomtha in die gangetjie afkom en sy is so beeldskoon soos altyd. Ek onthou die eerste keer wat ek haar gesien het. Almal in die vertrek verdwyn, dis net sy. Ek kyk hoe sy aangestap kom in haar pragtige wit rok wat elegant om haar kurwes vou.

Toe sy nader kom, word ek na die werklikheid teruggeruk. Dis nie na my wat sy op pad is nie. Die pyn vul my opnuut en elke tree wat sy gee is ’n tree nader aan my broer, nader aan die deur wat ons liefde gaan afsluit. My bors trek toe van die pyn; ek kan nie asem kry nie. Ek wil huil, uit die kapel hardloop sodat ek dit nie verder hoef te kyk nie. Maar ek hou my trane in en bly daar staan. Ek staan daar om Ma se onthalwe, vir Sicelo. Hy is ’n goeie man, ’n goeie broer en hy weet van niks. Die seremonie gaan voort en my pyn ook, maar ek bly op my pos.

“As daar enigiemand is wat weet van ’n wettige rede waarom hierdie twee mense nie in die huwelik verbind mag word nie, moet hulle nou hul beswaar aantoon of daarna vir ewig swyg,” sê die pastoor. Ek sien my ma kyk na my.

Weereens besluit ek om niks te doen nie. Hulle sê ‘ja’ op al die vrae. Nomtha se stem breek en dit gee my hoop dat sy nog sal weier. Maar toe ek weer sien, is die twee getroud. Ná die seremonie ry ons na die hotel toe vir die onthaal. Ek luister hoe almal hul toesprake maak en die “mooi couple” gelukwens, terwyl ek my verdriet met drank probeer verdrink.

“As jy nie versigtig is nie, gaan jy jou lewer doodmaak, nie die pyn nie,” sê ’n kelnerin.

“Dis my saak, los my uit,” snou ek.

“Excuse me, ek probeer net help,” antwoord sy.

“Okei, jammer, dis ’n raw nerve. Ek’s nie okei nie maar ek moet my sterk hou en okei wees.”

“Ek verstaan, ons is al almal daardeur,” sê sy en ek dink stilweg sy het geen idee nie.

“Ek is Luphelo,” sê ek en steek my hand uit.

“En ek is by die werk,” sê sy. Sy vat die leë glase en glimlag ondeund.

Ek besef daar en dan sy sal my aandag kan aftrek. Daar is iets ‘avontuurliks’ aan haar. Ek hou haar die res van die aand dop en sy kyk gereeld vir my ook. Uiteindelik kry ons weer ’n kans om te praat.

“So, meneer, jy hou my al heel aand met daai bruin oë van jou dop. Is dit iets wat ek gesê het?” vra sy.

“Dis eerder iets wat jy nie gesê het nie: jou naam.”

“Ek is ’n vriend wat jou probeer help en daardie vriend is Karabo,” glimlag sy.

“Sal ons die pad vat, Karabo?” vra ek impulsief en sy stem in.

Toe vat ek haar hand en ons stap na die uitgang. Ek besef Nomtha sien ons en ’n kinderagtige deel van my wil haar seermaak. Ek stop Karabo en soen haar, en sy soen my terug. Ek kyk na Nomtha en ek kan die pyn in haar oë sien. Ek wou haar so seermaak soos wat sy my seergemaak het.

***

Vertel ons: Hoe sou jy voel as jy Luphelo was en sien hoe Nomtha in die kapel se gangetjie afstap?