Toe die dag van die troue aanbreek, wil ek myself onder die komberse begrawe en nie gaan nie. Maar my ma smeek my om op te staan. Sy het geen idee oor wat regtig aangaan nie, niemand weet nie, net ek en die bruid.

“Lu!” roep my ma van onder af op.

Ek trek my komberse oor my asof hulle my kan laat verdwyn.

“Lu, jy moet opstaan, sana lwam’.”

“Ek voel nie goed nie, ek dink nie ek gaan dit na die troue maak nie,” sê ek.

“O, sana lwam’, wat is fout?” vra sy en sit haar hand op my voorkop om te voel of ek koors het.

“Ek weet nie, Ma,” lieg ek, al weet ek goed ek wil nie kyk hoe Nomtha in ’n liefdelose huwelik verbind word, terwyl ek haar al die liefde wat sy verdien kon gee nie.

“Jy het nie koors nie, Lu. Staan op, ek sal alles vir jou regkry, ons ry saam kapel toe,” sê sy en loop by die deur.

Ek sleep myself uit my bed, terwyl my hart met elke tree verder breek. Ek kan nie daarmee saamleef dat my eerste liefde met iemand anders gaan trou nie, en daarby nog met my broer nie. Ek bel Nomtha, maar sy antwoord nie.

“Haai, dis jou troudag. Daar was ’n tyd in ons lewe toe ek sou kon sê ‘Dis ons troudag’. Moet dit seblief nie doen nie. Moenie ons liefde doodmaak nie,” pleit ek op haar voicemail.

Ek maak reg, maar elke nou en dan kyk ek na my foon in die hoop dat daar ’n boodskap sal wees, dat sy van plan sal verander. Elke keer wat ek kyk en niks sien nie, breek my hart verder in stukkies.

Die familie vergader in die kombuis vir ’n vinnige ontbyt.

“Taka Lu, Lu en ek gaan saam na die kapel ry. Ry jy saam met Sicelo,” sê my ma aan my pa en stap na hom om sy das reg te trek.

My pa is ’n lang man. Selfs in haar hoëhakskoene is my ma heelwat korter as hy. Sy is ’n pragtige mens met ’n sagte stem. Wanneer hulle sê ‘opposites attract’, praat hulle van my ouers. Al verskil hulle so baie, het hulle ons liefdevol groot gemaak. Maar ek was nog altyd oortuig dat my pa meer van Sicleo hou as van my. My ma stel voor dat ons bid. Sy bid en my pa spreek die seën uit. Toe ry ons.

Op pad na die kapel kyk my ma na my. “Luphelo, wat is fout met jou?” vra sy.

“Wat bedoel Ma?” vra ek, dadelik op die verdediging.

“Jy was die afgelope tyd nie jou ou self nie. Speak now or forever hold your …” begin sy en bly dan stil. Ek kan haar oë op my voel terwyl ek in stilte bestuur.

Haar woordkeuse laat my voel dat sy iets weet. ’n Deel van my wil stilhou, huil en haar alles vertel, maar ek besluit om te jok.

“Ma, ek het mos gesê ek voel nie goed nie. Kan ons nie maar Sicelo fokus nie? Hy is die een wat vandag gaan trou,” sê ek onnodig kwaai, in die hoop dat sy my sal uitlos.

Ek kan sien ek het haar gevoelens seergemaak.

“Ek is jammer dat ek worrie oor my baba,” sê sy.

Haar woorde tref my hart. My ma is maar net bekommerd oor my en ek sluit haar uit. Maar ek het nog een briljante kaart in my mou. Ek laai Ma voor die kapel af.

“Ek gaan kyk of ek parkeerplek kan kry wat dit maklik sal maak om hier uit te kom,” sê ek. Maar ek soek nie parkeerplek nie, ek gaan reguit na die kleedkamer waar Nomtha besig is om reg te maak. Ek loop by die deur in Nomtha se vriendin vas.

“Luphelo, moenie! Dis al klaar moeilik genoeg vir haar, moet dit nie erger maak nie!” sê sy, maar ek is nie bereid om te luister nie. Ek het my besluit gemaak; ek gaan Nomtha kry. Ek stoot haar vriendin sagkens weg en gaan in.

“Babe, kom saam met my. Kom ons gaan.” Voor ek enigiets anders kan sê, breek my stem en bars ek in trane uit.

“Lu, ons het hieroor gepraat,” sê sy en begin saam met my huil. Ek hardloop na haar en soen haar. Sy soen terug, maar stoot my dan weg, terwyl sy nog harder huil.

“Luphlelo, hou op! Dis my familie se inkomste wat op die spel is, jou familie het klaar alles. Ek moet dit ter wille van almal doen, moenie selfsugtig wees nie. Uit!” sê sy en stoot my by die deur uit voor sy dit in my gesig toemaak.

“Nomtha is jy seker jy wil dit doen?” vra ek terwyl ek teen die deur leun. Ek kan haar binne hoor huil, maar sy skraap die moed bymekaar om drie woorde uit te spreek. “Gaan weg, Lu.”

***

Vertel ons: Dink jy dit was ’n goeie idee van Luphelo om Nomtha reg voor die troue te besoek?