Een dag is my pa heel dag nie op kantoor nie en niemand weet waar hy is nie, nie eens my ma nie. Ná werk vra hy ons almal om na die huis te kom, want hy het belangrike nuus.
“Oratile Diamonds is op die punt om bankrot te speel,” sê hy.
My hart begin woes klop en ek kan skaars stilsit. Ek wil hê hy moet verder praat.
“Ek was vandag heeldag in ’n vergadering met Sandile. Hy het ’n idee hoe om sy firma te red en hy wil my hulp hê.” Hy bly stil.
“Pa, wat is verkeerd? Dit klink of iets jou pla,” vra Sicelo.
Ek sê niks nie. Dit pla my ook, want ek onthou my gesprek met Nomtha.
“Sandile Zimba is ’n briljante besigheidsman en het aan ’n plan gedink. Die twee firmas moet saamsmelt,” antwoord my pa.
My pa is ’n trotse, konserwatiewe man en wil hê die twee families moet deur familiebande ook verbind word. Sandile se enigste dogter, Nomtha, moet met een van pa se seuns trou. Ek kan my ore nie glo nie, so bly is ek.
“So, met wie van ons gaan sy trou?” vra ek opgewonde. Dit maak sin dat Nomtha met my trou. Sicelo is twaalf jaar ouer as sy.
“Sy gaan met Sicelo trou,” sê my pa.
Ek voel hoe my bloed begin kook. Sicelo, my ouer broer, is die een wat my pa voorberei om die besigheid eendag oor te neem. Die goue seun gaan weereens alles kry.
“Ons het besluit Sicelo moet met Nomtha trou. Dit sal ons verhouding en vennootskap versterk. Soos julle almal weet sal Sicelo by my oorneem. Hy is nou die hoof- uitvoerende amptenaar en sal eendag president word en die firma bestuur.
“Nomtha is die enigste erfgenaam van Oratile Diamonds. Sandile is besig om haar ook voor te berei om die besigheid oor te neem. Dit maak sin dat hulle trou en ons die toekoms in lei.”
My pa se woorde eggo in my kop elke keer wanneer ek aan daardie dag dink. Ek wil opspring en beswaar maak teen die besluit, maar op watter gronde?
“Ek voel geëerd, pa,” sê Sicelo asof hy in ’n episode van Game of Thrones is.
“Is jy nie bly nie, bru?” vra hy my met ’n groot glimlag op sy gesig.
Ek moet my pyn sluk en glimlag asof ek bly is. “Ek het geen rede om nie bly te wees nie,” sê ek met ’n flou glimlag.
My pa gaan voort om die huwelik en die samesmelting te verduidelik. “Dit sal ’n goeie beeld vir albei firmas skep en die direkteurs van die twee firmas sal die samesmelting makliker aanvaar as ons ’n band buite die besigheidswêreld het.”
Ek hoor alles wat hy sê, maar al waaraan ek kan dink is aan Nomtha. Ná die tyd bel ek haar en probeer haar oorreed om saam met my weg te hardloop. Ons is jonk en het grade, ons sal enige plek ’n werk kon kry. En ek het genoeg geld om ons te onderhou terwyl ons werk soek.
“Kom saam met my,” smeek ek. In my agterkop weet ek een van Nomtha se eienskappe wat juis maak dat ek haar liefhet, gaan teen ons tel.
“Ek kan nie my familie los nie,” sê sy moedeloos. “Dis ’n kans vir my familie om die firma te red en dis my verantwoordelikheid. Ek kan hulle nie in die steek te laat nie.”
Ek kan hoor sy huil. Ek was nog altyd mal daaroor dat sy so lojaal teenoor haar familie is, maar nou tel dit teen ons. Ek wens sy kon selfsugtig wees; ek wens sy kon haar eie geluk eerste plaas.
“So, jy gaan die verhouding wat jy ten alle koste nie in ’n besigheidsooreenkoms wou laat ontaard nie verbreek vir ’n besigheidsooreenkoms?”
“Dis glad nie so eenvoudig nie, Lu, jy weet dit.”
“Nee, ek weet nie. Al wat ek weet, is dat jy my los.”
“Luphelo, hou asseblief op,” huil sy.
Ek het opgehou, maar die pyn het aangehou. Ek kon nie verstaan waarom sy hiermee wou voorgaan nie.
“As jy die verhouding wil verbreek, sal ek dit so aanvaar. Dit voel nie reg nie, maar dit klink of jy klaar besluit het,” het ek gesê, terwyl ek steeds hoop sy sal anders besluit. Maar sy het nie, en ek het die foon neergesit.
***
Vertel ons: Wat dink jy oor die nuus dat Nomtha en Sicelo gaan trou?