Dankie Vader dat my ma my pa oorreed het om vir my ’n woonstel buite die kampus te huur, want dit het dit maklik gemaak om ons verhouding stil te hou. Nomtha en ek het ons studentejare saam spandeer.

Nomtha was ’n tweede ma vir my. Sy het my van die eerste dag af bederf en ek het beslis nou ’n radio gehad. Sy het die gewoonte gehad om haar stories op te gaar vir die beste tyd vir my, maar die slegste vir haar – ’n paar minute voor ek aan die slaap sou raak.

“Liefste, moenie slaap nie,” sê sy dan slaperig.

“Ek slaap nie,” antwoord ek slaperig.

“Laat ek raai, jy laat net jou oë rus?”

“Nee, jy’s verkeerd. Ek maak my oë toe sodat ek my beter kan verbeel hoe dit sal wees om die res van my lewe saam met jou te spandeer,” sê ek dan en hou haar stywer vas. Ek het geweet dit sou haar gou stilmaak.

***

Ons het ons grade voltooi en planne gemaak om te trou en by ons pa’s se firmas te gaan werk. Sy sou by haar pa se besigheid gaan werk, terwyl ek sou aansluit by my pa se firma, Meduna Mining Inc, een van die grootste diamantmynmaatskappye in die land. Ons was die perfekte paartjie. Maar ons het niemand van ons verhouding vertel, afgesien van ons universiteitsvriende nie. Nie een van ons familielede het daarvan geweet nie, want ons het gedink hulle sal dit as ’n besigheidsgeleentheid sien.

Een Saterdagoggend bel my ma my. Toe ek die foon neersit, gaan ek na die kombuis, waar Nomtha is.

“My ma vra waarom ek nie meer so dikwels naweke huis toe kom nie. Sy het selfs gevra wie is die meisie wat my van haar weghou. Kan jy dit glo?” sê ek en lag senuweeagtig.

Nomtha kyk op van waar sy besig is om ontbyt te maak. Sy hou op kos maak en kyk na my, of so lyk dit. Sy is duidelik diep ingedagte.

Ek loop nader en sit my arms om haar. “Wat’s verkeerd, sthandwa sam’?”

“Dink jy dis ’n wyse besluit om hulle van ons verhouding te vertel? My pa het spesifiek gesê geen boyfriends tot ek my graad het nie. Ek dink ons verhouding sal ’n groot impak hê,” sê sy.

“Hoe bedoel jy?” vra ek. Ek het ’n idee wat sy bedoel maar ek wil hê sy moet dit uitspel.

“Ons kom uit twee families wat saam besigheid kan doen. Imagine as ons vir hulle sê ons is in ’n verhouding. Hulle sal wil hê dat ons saam moet bly, vinnig moet trou ter wille van die besigheid. Ek ken my pa en sy behoefte om sy erfenis te bewaar. Hy is heeltemal in staat om ons te push. Ek is lief vir jou Lu, maar ek wil nie hê ons verhouding moet ’n besigheidstransaksie wees nie. Dit wat ons het is perfek sonder dat ander mense interfere.”

“Ek het ook daaroor gedink. Ek wil hê jy moet by my bly uit liefde. Ek het jou met alles in my lief. Kom ons geniet ons jong dae,” sê ek en steel ’n stuk spek.

“Dis joune daai!” roep sy uit en ons lag asof ons nie pas een van die ernstigste gesprekke ooit in ons verhouding gehad het nie.

Ons wou die ‘volwasse’ deel van ons verhouding geniet sonder dat ons dit ter wille van besigheid moet doen. Min het ons geweet dat ons families se paaie reeds in die besigheidswêreld gekruis het. Oratile Diamonds se diamante is verskaf deur Maduna Mining. Dit is eers toe ons by die firmas begin werk dat ons uitvind presies hóé nou hulle saam werk.

***

Vertel ons: Dink jy dis die regte besluit om nie hul families van hul verhouding te vertel nie?