’n Skielike bries pluk aan Joey se nat klere. Toe ’n donker wolkie voor die maan inskuif, lig hy die geweer en vuur op die silhoeët van die eerste gewonde bendelid wat met sy geweer op die speurder se kop gerig agter die speurder verskyn het.

Die speurder vuur terselfdertyd op Joey, wat regs duik en teen die effense afdraand af rol. Die bendelid tuimel neer tot by die speurder se voete. Die speurder kyk geskok af na die liggaam. Toe hy opkyk, is Joey skoonveld.

Dit is halfelf toe Joey by die huis aankom. Doodmoeg beur hy verby Janey en gooi hom op sy seun se bed neer, waar hy amper onmiddellik begin snork. Janey kyk vies na hom.

Net voor middernag klop iemand aan die deur. Toe Janey oopmaak, staan daar ’n man voor haar. Sy snak na asem toe hy hom as ’n speurder voorstel.

“Is iets verkeerd, sersant?” stotter sy.

“Kan ek met meneer Figaro praat, mevrou?”

Janey roep Joey se naam uit, maar daar is geen reaksie nie. Sy haas haar na die kamer en skud hom wakker.

Joey kreun wanhopig, terwyl hy met dowwe oë na sy vrou staar. “Janey, asseblief …” smeek hy.

“Die polisie is hier, Joey,” sê sy, haar stem bewerig.

Hy kyk in haar vreesbevange oë en gee haar ’n vinnige drukkie, kyk ’n laaste keer in sy huis rond, voor hy uitstap om die speurder te ontmoet. Hy beweeg sleepvoet, kop onderstebo.

Hy stop voor die speurder, wat met sy linkerhand agter sy rug staan. Joey kyk die speurder in die oë en wag dat hy sy boeie uithaal. Janey hou hom dop met trane wat oor haar wange afloop.

Die speurder steek sy hand in sy sak, haal ’n skroewedraaier uit en gee dit vir

Joey. “Dankie vir die hulp, meneer Figaro, maar jy het jou skroewedraaier agtergelaat en ek het gedink ek moet dit vir jou bring … net in geval jy dit weer gaan nodig kry.”

Joey staar verwilderd na die blink skroewedraaier. Die speurder bring ’n bos blomme van agter sy rug te voorskyn en gee dit aan Janey. “Vir jou, mevrou Figaro, vars uit my tuin uit,” sê hy. “Jy’t ’n goeie man, mevrou Figaro. En jy moet ’n goeie nagrus hê, meneer Figaro,” voeg hy by, voor hy omdraai en na sy motor terugloop.

“Wat ’n mooi gebaar,” borrel Janey en druk die rose onder Joey se neus. “Ruik die rose, Joey,” sê sy, en Joey ruik aan die rose.

*****

Vertel ons wat jy dink: Het geregtigheid geskied, al is niks in ’n hof beslis nie? Is dit net “’n doodgewone dag” waarop bendes regeer?