Die pyn is soos ’n tromslag in sy kop, asof dit die Nommer is wat hom roep. Hy het so pas ’n man doodgemaak. Ek gaan nie terug tronk toe nie, besluit hy, en tel die gevalle man se geweer op.

“Laat val die geweer, meneer Figaro,” blaf ’n stem uit die donkerte.

Joey oorweeg die bevel, die geweerkolf knus in die palm van sy hand.

Dink jy Janey sal die kaart vind?” vra Joey die stem.

“Watter kaart?”

“Die bankkaart vir die kommergeld,” antwoord Joey.

Die speurder tree in die lig van die gebou se veiligheidsligte in, sy geweer in sy hand. Hulle kyk na mekaar oor die afstand tussen hulle.

“Jy’t my lewe daar in die stasie gered, meneer Figaro,” sê die speurder.

“Gered?”

“Gelukkig het ek ’n koeëlvaste baadjie aangehad, maar hy het na my kop gemik en die ander sou beslis ook gesterf het,” sê die speurder. “Die een wat jy geskiet het en dié een,” knik hy na die liggaam in die straat, “hulle was hoog op die lys van misdadigers wat gesoek word.”

“En die laitie by die stasie?”

“Seun van ’n belangrike bendelid wat van die huis af weggeloop het. Ons het hom gevang. Dié ou en die ander een is gestuur om hom huis toe te neem. Jy’s ’n held, meneer Figaro.”

“O nee, ek wil net by die huis uitkom en gaan slaap.”

Daar is ’n gespanne stilte. “Jy weet ek kan dit nie toelaat nie, meneer Figaro. Jy het so pas een man doodgemaak en ’n ander geskiet.”

***

Vertel ons: Verdien Joey om gearresteer te word?