Die klank van ’n geweer wat naby Joey se ore oorgehaal word, klink luid in die stil vertrek op en bring hom ru tot sy sinne. Hy herken dadelik die vuurwapen: nege millimeter, 13 skote, semi-outomatiese Parabellum. Joey ken gewere.
“Laat die seun gaan,” sê die gewapende man en knik na die jeugdige.
“Hei!” roep die gemene speurder uit, sy oë op die geweer in die gewapende man se hande vasgenael. Die konstabel agter die toonbank staar gehipnotiseer na die toneel wat voor hom ontvou. Groenoog teug diep aan die lug vol dagga om haar en hou haar asem in. Die dronkie slaap voort.
“Sê vir daai mapoesa in die hoek om hierheen te kom,” beveel die gewapende man en knik na die konstabel wat by ’n lessenaar agter die toonbank sit. Die konstabel staan op en kom binne sig, naby Joey.
Joey se hart hamer toe iemand reg agter hom kom staan. Die persoon se asem ruik na Bell’s whisky. Joey ken sy whisky.
“Wat’s dit?” vra ’n man se stem, amper verskonend, voor hy Joey met ’n vuis teen die kop moker.
Joey se kop ontplof en sy brilglase spat in stukke op die vloer, terwyl hy van die stoel af in die gewapende man vassteier en die man se geweerarm vasgryp. Die arm swaai opwaarts, lig Joey amper van sy voete af. Die geweer vuur en slaan die speurder plat.
Joey veg teen die gespierde arm. Hy smag skielik na nikotien. Hy stamp die man in die maag met die swaai van ’n arm. Joey verstik amper aan die walglike mengsel van samoesas, Bell’s whisky en dagga wat uit die man se mond in sy gesig geblaas word.
’n Wilde gil ontsnap uit Joey se keel toe die geweer weer ontplof. Die gewapende man steier terug, sy arm hang lam langs sy sy, daar is orals bloed.
Joey beweeg na die deur toe, half gebukkend van pyn en vrees. Die gewapende man skiet na Joey, maar tref die deurkosyn. Groenoog gil. Die dronkie sit verwilderd regop toe Joey teen die pilaar buite die ingang vasslinger, struikel, amper val en toe die donkerte in steier.
***
Vertel ons: Hoe hou jy van hierdie skielike wending in die plot?