Ek is by my locker om my Engelse boeke te kry toe Ncumisa na my kom. Sy lyk bang.

“Jy ken vir Levi?”

“Ja?” antwoord ek, en zip my rugsak toe.

“Songezo en Mdu het hom vanoggend geslaan,” sê sy, en haar ken bewe. “David, hulle het hom amper doodgemaak. Hy’s … ek het probeer … ek haat hulle! Ek haat hulle!”

“Sjj,” sê ek, en trek haar aan die arm na die suidelike uitgang, tot op die trap. “Wat het gebeur?” vra ek.

“Ek en hy het gechat. Hulle het hom gegryp. Hulle het so vinnig gekom. Hulle, hulle …”

Sy begin huil. Sy vou haar hand oor haar mond, trane stroom oor haar wange.

“Dis okei,” sê ek, en gee haar ʼn drukkie.

Sy druk my weg. “Hoe is dit okei? Hoe kan hulle dit aan hom doen? Wat het hy al ooit aan hulle gedoen?”

Ek weet nie wat om te sê nie. “Dis seker maar omdat hy–”

“Vriendelik is?” roep sy uit. “Bedagsaam? Slim? ʼn Beurs het? ʼn Goeie vriend is?”

“Jy verstaan nie, hulle is net bang vir …”

“Wat? Bang vir wat?”

“Gay mense.”

Sy hou op huil.

“As ek president van hierdie land was, sou Songezo en Mdu gehang word.”

Sy loop weg.

“Ncumisa!” roep ek agter haar aan. Sy hou net aan loop.

In die Engelse klas kry juffrou Tshinga ʼn boodskap van iemand by die deur. Ons kan nie sien wie dit is nie. Sy kom terug na haar tafel.

“Songezo en Mdu, die hoof wil julle sien.”

Ek draai om om na hulle te kyk.

“Ek?” vra Songezo, ʼn disgusting glimlag op sy gesig.

“Ja. Jou naam is Songezo, nie waar nie?” sê juffrou Tshinga droog.

Hy lig sy wenkbroue, blaas sy asem uit en fluit. Hy loop in die paadjie tussen die stoele deur, laat val ʼn opgefrommelde stuk papier op my tafel toe hy by die klaskamer uit drentel met die selfvertroue van iemand wat nou net die lottery gewen het. Wat ʼn dick.

Juffrou Tshinga praat verder oor die verskil tussen ʼn metafoor en ʼn vergelyking.

Ek vou die papier oop. In potlood, in Songezo se krom skrif, staan:

Jou moffie-vriend is dood.

***

Vertel ons: Hoekom dink jy slaan sommige straight mans gay mans?