Teen die tyd wat my ouers en broer by die huis aankom, kan ek sien hulle is te moeg. Niemand sê veel oor die vergadering nie, net dat dit interessant was. Maar iets sê vir my om nie die pamflette te los waar Melusi dit kan vind nie. Dus prop ek dit in my skooltas om dit veilig te hou.

Die volgende dag is ek vir die eerste keer in ’n lang tyd angstig dat skool moet klaarmaak. Ek wil by die huis uitkom, seker maak Melusi en Nandi is okei, en dan ordentlik met my ouers praat.

“Is jy okei?” vra Elihle my pouse.

“Ja,” sê ek, en peusel aan my brood. “Hoe was die vergadering?”

Sy glimlag en tel ’n appel op. “My ma is opgewonde. Sy dink dit gaan sowaar uitwerk.”

“Wat dink jy?”

Sy vryf die appel blink teen haar trui en sê, “Ek weet nie. Maar dit het gelyk of mense luister. En ons weet almal dat my ma nie opgee as sy eers ’n idee in haar kop het nie. So, enigiets is moontlik.”

Ek knik toe sy haar appel byt. “Iets vreemd het gisteraand gebeur.”

“O?”

“Die polisie het met inligting oor hondegevegte by ons huis aangekom.”

Elihle knik. “Ek weet. Hulle het aan die einde van die vergadering opgedaag en gevra of hulle ’n paar woorde kan sê. Mense was baie ontsteld oor die inligting. Tot so ’n mate dat ek gedink het my ma gaan kwaad word omdat dit die kollig steel. Maar sy het gedink dit bewys eintlik hoe nodig dit is dat ons die jong mans in ons gemeenskap iets moet gee om te doen.”

“H’m,” sê ek. Ek het nie so daaroor gedink nie.

Tog haas ek my huis toe, om met Melusi te praat. Duidelik ’n goeie idee, want die oomblik toe ek in ons straat afdraai, hoor ek Silwane woes blaf. Ek bedoel BLAF. Jy sien, hy doen dit nooit nie.

Ek begin hardloop, en toe ek nader kom, sien ek Melusi en Buntfu met gebalde vuiste teenoor mekaar staan. “Bly weg van my suster en haar hond,” skree Melusi en slaan na Buntfu.

Buntfu koes vir die hou. “Reg, jy het laas week van die geld gehou maar sonder aas opgedaag. Wat gaan jy nou doen, die geld teruggee?”

Tot my skok, trek Melusi ’n rol geld uit sy agtersak en gooi dit na Buntfu. “Vat jou vuil geld en bly weg van my familie.”

Buntfu se oë peul uit toe die bries die geld op die grond laat fladder. Hy skarrel blitsig om dit op te tel, terwyl hy goed skree soos, “Jy’s mal,” en “Jy gaan spyt wees.”

Melusi kyk na my. “Vat Nandi in die huis in, nou.”

Ek beweeg vinnig, raap haar op en vlug by die huis in, met Silwane kort op my hakke.

Dit voel soos ’n ewigheid, maar uiteindelik kom Melusi in en daar is geen teken van Buntfu nie. Toe hy my daar sien staan, met Nandi steeds in my arms vasgeklem, kom hy nader en sit sy arms om ons albei. “Ek is so jammer,” hou hy aan sê. “Ek gaan dit regmaak. Ndixolele. Ek’s so jammer. Ek’s so jammer.”

***

Vertel ons: Het jy al ooit ’n vriend gehad wat verander het en iemand geword het wat jy nie kan vertrou nie?  Wat dink jy van hierdie storie?