Hierdie aangrypende en ongewone storie wys ons lesers ’n situasie wat ons ons moeilik van buite af ten volle kan indink. Dis nou om deel van ’n gesin te wees met ’n lid wat konstant 24/7-versorging nodig het, en dit hul hele lewe gaan nodig hê.

Dit wys ons ook dat dit vir armer mense selfs nog moeiliker is om so iemand te versorg, veral as daar nie uitgebreide familie is wat kan help nie.

Nandi het ’n taamlik algemene toestand wat outisme genoem word. Daar is baie tipes outisme en ’n persoon kan matig tot ernstig geaffekteer word, soos Nandi. Afgesien van haar gesin, kan sy nie ander mense naby haar verdra nie, en sy toon herhalende gedrag, soos om haar hande te flap. Sy kan nie praat nie. Nandi neurie net om te wys dat sy okei voel, en as sy angstig is, kan sy vir ure onbeheers skree. Maar outistiese mense kan sterkpunte ook hê – soos Cebisa sê, “gee haar ’n raaisel en sy los dit in ’n oogwink op.” (Vind meer uit op webwerwe soos www.autismspeaks.org/what-autism.)

Wat beteken dit vir ’n familie, afgesien van die stres van die geskree en onvermoë om te kommunikeer? Ons leer dat vriende nie kan kom kuier nie, omdat Nandi dit nie kan verdra nie en begin gil. Vir Cebisa is die lewe makliker by die skool as by die huis, want: “Ek kry nie eens ’n behoorlike vakansie nie. Wanneer die skool gesluit is en Mama en Tata werk, moet ek al die huiswerk doen en ’n ogie op Nandi hou, terwyl my ouer broer, Melusi, saam met sy vriende rondloop.”

Melusi is intussen werkloos en moet die hele tyd terwyl Cebisa by die skool is na Nandi kyk. Hy is saam met haar “vasgevang” by die huis.

Maar as hy ’n werk kry, sal die familie ’n buurvrou wat Nandi vertrou kan betaal om na haar te kyk – veral aangesien sy nou vir Silwane, haar “dienshond” het.

Is dit nie interessant hoe hierdie spesiaal opgeleide dier Nandi en haar familie se lewens positief verander nie? Jy het dalk al van gidshonde vir blinde mense gehoor, maar het jy al ooit gehoor van ’n hond soos Silwane? Nandi is lief vir hom, en hy hou haar veilig deur haar van gevaar af weg te keer. Sy konstante snoesige teenwoordigheid kalmeer haar, sodat sy nie meer ure skree nie. Cebisa vertel haar vriendin sy kan nou kom kuier, aangesien Nandi kalm is as Silwane daar is.

Soos die storie egter duidelik maak, is dit baie, baie ongewoon vir ’n armer familie om ’n dienshond te hê, en hul bure vind dit vreemd dat hulle ’n hond het wat binne slaap. Hulle kry Silwane slegs omdat Mama vir ’n wit werkgewer werk, wat heel moontlik ryk is en goeie kontakte het. Dienshonde moet oor ’n lang tyd opleiding ontvang wat befonds word. Daarom is daar nie genoeg van hulle vir almal wat hulle nodig het nie, en dit is duur om hulle te verskaf.

In die storie leer ons ook dat Nandi wel gehelp kan word indien sy skool toe gaan. Die feit dat sy skool toe gaan sal dit ook vir Melusi moontlik maak om werk te soek. Maar ons leer dat sy steeds “. . . op ’n waglys is vir ’n spesiale skool”.

Soos alle kinders, het kinders met spesiale behoeftes die reg om na ’n geskikte skool te gaan. Dit moet onderwysers hê wat spesiaal opgelei is om die kinders tot hul volle potensiaal te ontwikkel.

Die hartseer feit in Suid-Afrika (en in die meeste lande) is dat, as jy geld het, jou kind met spesiale behoeftes na die regte skool kan gaan. Jy kan ’n versorger huur om te help om na die kind om te sien by die huis, terwyl jy werk toe gaan. Baie ernstig gestremde mense kan deur opgeleide personeel versorg word in tehuise wat spesiaal vir die doel gebou is.

As jy arm is, is dit baie moeiliker. Eerstens moet jy naby ’n spesiale skool bly, en daar is nie naastenby genoeg van hulle nie. Jy kan nie verblyf in ’n versorgingsentrum bekostig nie, en jy kan ook nie ’n opgeleide versorger bekostig wat na jou kom nie.

Hier is net een bewysstuk, uit hierdie verslag van Human Rights Watch: https://www.hrw.org/news/2016/08/19/south-africa-little-progress-youth-disabilities. Hiervolgens skat ’n regeringsverslag wat in November 2015 vrygestel is dat daar in KwaZulu-Natal so veel as 182,153 kinders tussen die ouderdomme van 5 en 18 is met gestremdhede, maar dat so veel as 137,889 – 76 persent – moontlik geen skoolopleiding ontvang nie.

In ons storie kan Nandi gelukkig na ’n gratis of geborgde skool gaan en maak sy gou vordering: “Gepraat van iewers begin: Nandi het begin skoolgaan. Dis ’n klein skooltjie wat daaraan gewoond is om met kinders soos Nandi te werk . . . en dit is wonderlik om te sien hoe sy groei.”

Nog ’n storielyn in Honde en bokke gaan oor hondegevegte, en Melusi se vriendskap met Buntfu. Soos soveel ander jong mans, het Melusi net ’n matrieksertifikaat en is werkloos, en kom hy uit ’n taamlike arm familie. Daarom is dit vir hom ’n versoeking om enigiets te doen wat geld inbring, selfs iets wreeds en onwettig soos georganiseerde hondegevegte. Soos die polisie aan Cebisa sê, lei dit ook dikwels na die wêreld van dwelms en bendes.

Nie net dit nie, Cebisa is ontsteld om te lees dat mans wat “. . . by hondegevegte betrokke raak hul empatie kan verloor …. en mag oorgaan van diere seermaak na mense seermaak, en mans word wat hul vroue en kinders slaan.”

Kyk hoe harteloos het Buntfu geraak. Hy was eens ’n goeie vriend van Melusi. Nou spot hy hom en wys sy gebrek aan empatie teenoor Nandi: “Hy lig sy ken en kyk na Melusi. “Wanneer jy eendag besluit het of jy regte geld wil verdien of nie, kan jy my laat weet. Tot dan moet jy maar lekker babaoppasser speel vir die idioot.”

Die derde storielyn in die verhaal beklemtoon ’n gemeenskapsprobleem wat ontstaan wanneer armer mense enigiets probeer om hul kosvoorraad te vermeerder, maar nie heinings en krale kan bekostig nie. Elihle se ma probeer ’n projek begin om heinings te kry en mense te help om hul diere beter te beheer.

En ’n laaste tema wat daarby aansluit dui op ’n manier om werk te kry indien jy nie formele opleiding kan kry nie. Melusi sien daarop neer om by die projek betrokke te raak;

“Soos wat?” vra my broer snedig. “Bokke oppas?”

Tata haal sy skouers op. “Hulle gaan eers mense nodig hê om geld in te samel en te bou. Jy kan dalk ’n paar vaardighede aanleer.”

Vrywillige werk kan jou inderdaad vaardighede aanleer en dit lyk goed op jou cv. Dit is ’n goeie begin om werk te vind. Aan die einde van die storie vertel Cebisa dat Melusi betrokke geraak het omdat sy ouers aangehou het om vir hom te sê: “Almal moet iewers begin.”

Dis so waar!

Jy kan die Riglyne vir Stedelike en Buitestedelike Dierboerdery hier lees.