Die volgende dag het Jojo vir Kago buite die werksplek gewag toe hy daar aankom. “So het jy hom gekry?” groet sy hom.

“Wie? Tiger.”

“Wie anders? Ek was die heelnag bekommerd gewees. Dis hartseer om aan ’n hond te dink wat in die strate rondswerf sonder ’n huis.”

“Ja, maar nee, ek het hom nie gekry nie. Moenie bekommerd wees nie, hy sal opdaag.”

Jojo het bekommerd gelyk. “Jy weet wat. Ek ken ’n plek. ’n Plek wat verlore en ongewensde honde aanhou: Paws R Us. Na werk kan ek en jy soontoe gaan. Miskien het hulle vir Tiger.”

Kago het baie van die idee gehou om na Paws R Us saam met Jojo te gaan. Hy het van die idee gehou om na enige plek saam met haar te gaan.

“Goed, dit klink na ’n plan,” sê hy.

* * * * *

Kago het besluit om geld op ’n taxi te spandeer na die honde reddingsplek. Dit sou twee kombi-ritte vir twee mense geneem het, in elk geval amper die prys van ’n spesiale taxi, en hy was hoopvol dat hulle Tiger sou kry. Jojo sou verpletter wees as hulle nie het nie, en hy sou ook baie sleg gevoel het. Hy het daardie groot hond gemis.

’n Lang, grootgeboude wit man het by die ontvangs van Paws R Us gestaan. “Kan ek julle help?” het hy gevra.

“Ja, ek is op soek na my hond, Tiger. Hy is groot en swart, met drie wit voete. Hy is gedeeltelik boerboel, maar hy is nie aggressief nie. Hy het vermis geraak vanaf ons huis in Uitbreiding Vyf twee dae gelede.”

“ Hoekom kom julle nie saam met my nie, dan kan julle rondkyk?”

Hy het hulle deur ’n gang gelei wat na antiseptikum ruik. Kago kon honde iewers hoor blaf. Die man het ’n deur aan die eindpunt oopgemaak en Kago en Jojo het ingegaan. Die kamer was vol groot hokke, elk met twee of drie honde binne-in. “Kyk rond. Miskien is jou Tiger in een van daardie hokke.”

Kago hoef nie lank te gesoek het nie want Tiger het na die voorkant van die tweede hok gehardloop en begin blaf of hy mal is. “Dis hy!” sê Kago en wys na die hond. “Dis my Tiger.”

Jojo het na die hok gegaan. “ Hy is pragtig! En kyk, hy het maats gemaak.” In die hok saam met Tiger was ’n kleiner, sterkgeboude, bruin hondjie. Kago het gedink dat hy ’n Amerikaanse veghond kon wees. Hy was besig om Tiger se oor te lek. “Siestog! Hy gaan vir Tiger mis as hy weggaan.”

“Goed, kom net na ontvangs en vul ’n paar papiere in, dan kan jy jou hond huis toe neem,” het die man gesê.

Gelukkig het Kago vir die taxibestuurder gevra om vir hulle te wag. Hy het net ’n gevoel gehad dat hulle vir Tiger sou kry. By die motor, nadat hulle vir Tiger op die agterste sitplek gelaai het, het Jojo na Kago gedraai en hom ’n soentjie op die wang gegee. “Ek’s so bly jy het jou hond gekry.”

Jojo het op die passasierssitplek gaan sit. Kago het glimlaggend op die agterste sitplek gesit, met sy arm om Tiger.

Terwyl die taxi wegtrek van die honde reddingsplek, het Kago teruggekyk. Hy het iets bekends raakgesien. Daar was ’n groot toegemaakte vragmotor agter die gebou. Die man van die ontvangstoonbank was besig om honde in die vragmotor te laai. Maar dit was nie wat Kago se oog gevang het nie. Wat sy oog gevang het was die ou wat die man gehelp het.

Die ou was Spokes.

* * *

Vertel ons wat dink jy: Waarmee is Spokes besig?