Kago en Jojo sit by ’n tafeltjie op die stoep van die kafeteria. Dit is ’n warm dag, maar daar waai ’n koel briesie en die tafel is in die skaduwee. Kago haal ’n sjokolade stafie uit sy kospakkie.

“Ek het gedink jy sal hiervan hou,” sê hy en gee dit vir Jojo aan.

“Dankie, ” sê sy, breek dit in die helfte en gee een helfte terug aan hom. “Is jy oukei vandag?”

“Hoekom?”

“Ek weet nie. Vanoggend het jy nie heeltemal gelukkig gelyk nie, asof iets gebeur het.”

“My hond het weggeraak. Ek het hom probeer kry en die eerste taxi gemis. Ek moes hardloop vir die volgende een.”

Jojo se oë blink. “Het jy ’n hond? Dis so oulik!”

“Wel…jy weet…in elk geval is hy nie een van daardie klein ronddra-hondjies nie. Hy’s groot, deels Boerboel.”

“Nog steeds, ek’s mal oor honde! Wat’s sy naam?”

“Tiger.”

“So, het jy hom gekry?”

“Nee, maar ek is seker hy sal opdaag. Hy hou daarvan om in die buurt rond te loop. My dom neef Spokes het hom laat uitgaan. Hy is só onverantwoordelik.”

“So jy bly by jou neef?”

“Nee, ek bly by my Ma”. Dis Spokes wat by ons bly.” Kago skud sy kop. “Ek weet nie hoekom my ma dit toelaat nie. Hierdie ou is duister, en was nog altyd so gewees. Hy’s besig met iets. Ek weet dit.” Jojo suig aan haar Cola. Sy kyk op na Kago met haar groot ronde oë. “Ek bedoel hy het al hierdie geld, maar kan nooit regtig sê waar dit vandaan kom nie. En hy slaap heeldag en gaan snags uit. Ek dink hy’s besig om te steel of iets. Ek hou nie van daardie goed nie. Mense moet hulle geld eerlik verdien.”

Jojo vou Kago se harde hand toe met haar klein sagte handjie. “Kago, weet jy wat? Jy’s regtig een van die goeie ouens.”

Kago glimlag net toe die tyd verstreke sirene afgaan.

* * * * *

“Ma? Ma, Ek’s tuis!” roep Kago toe hy by die deur inkom.

Spokes kom in vanaf die sitkamer. Hy dra ’n bier in een hand en ’n sigaret in die ander een. Afgesien van die feit dat hy ’n jaar jonger as Kago is, moes hy nie so oneerbiedig in sy ma se huis wees nie.

“Jou mamma is nie hier nie klein seuntjie. Wil jy hê ek moet vir jou melk en koekies aandra?” terg Spokes hom.

“Spokes ek het vir jou gesê jy moenie in die huis rook nie. En jy hoef ook nie te drink nie. Moet jy nie amper gaan werk nie?”

Spokes gaan sit op ’n kombuisstoel, sit sy voete op die tafel en blaas rooksirkeltjies uit sy mond. “My werk is nie soos joune nie. Ons reëls is ’n bietjie slap.”

“Ja, reg,” sê Kago, terwyl hy Spokes se voete van die tafel afstamp. “Het jy vir Tiger gesien?”

“Nee. Ai man! Wat is jou storie met daardie simpel hond? Hy sal kom as hy wil kom.”

Kago is nou vies. “Jy is die een wat hom laat uitgaan het. Ek het vir jou gesê om hom nie te laat uitgaan nie. Hoekom kan jy niks reg doen nie? Jy was nog altyd so gewees – gedruip by die skool, altyd geskors vir bakleiery en twak. Selfs jou ma het jou uit haar huis geskop. Jy behoort bly te wees dat my ma jou toelaat om hier te bly. Jy sou andersins op straat gesit het.”

Spokes het skielik opgestaan. Hy het sy tong geklap en uit die huis gestorm, terwyl hy die deur slaan. Dis beter so, het Kago gedink.

Hy het vir sy ma gewag om huis toe te kom en toe in die buurt gaan rondsoek vir Tiger. Dit was nie die hond se manier om nie huis toe te kom nie. Hy hoop niks het met hom gebeur nie.

Sy gedagtes dwaal weer na sy neef. As Spokes nie by hulle gebly het nie, sou die lewe baie beter gewees het. Kago kon nie vertaan waarom sy ma altyd vir Spokes uitgehelp het nie. Almal kon sien hy is ’n slegte ou.

* * *

Vertel ons wat dink jy: Moet Kago en sy ma Spokes toelaat om in hulle huis te bly?