Drie episodes later lig ek my koeldrank na my lippe en vra vir Ma, “Wat dink Ma sover?”

Sy antwoord terwyl ek ’n sluk vat. “Wel, dis fine‘I’m gagging for it’ nie.”

Ek verstik so, die gasborrels kom by my neus uit. Ma klap my op my rug en gee my ’n ton tissues, voor sy op die volgende episode klik.

“Hei, ons hoef nie nog een te kyk nie,” sê ek en vee my oë af.

“Miss Vanjie,” antwoord Ma met ’n knipoog, wat my van voor af laat verstik.

Vanessa Vanjie Mateo is die eerste deelnemer wat in Seisoen 10 uitgeskakel is, en haar exit het viral gegaan, en ontelbare memes geïnspireer. En nou is my ma haar nuutste fan.

Toe ek uiteindelik my asem terugkry, sê Ma, “Ek voel sleg vir daai Vanjie-persoon, ek het amper gewens sy het gebly. Maar as sy nie huis toe gestuur is nie, sou sy nie Miss Vaaaaanjie kon gewees het nie.”

My ma is al weer besig om wyshede kwyt te raak. Al wat ek sê is: “Sy kom terug in Seisoen 11.”

Ma se oë verhelder. “Regtig? Kom ons skip dan na daai seisoen.”

Dis heeltemal verkeerd om seisoene sommer so te skip, maar sy is so gelukkig, dat ons dit doen.

Ons kyk nog twee episodes en dit raak donker buite, toe sy vra, “So is dit wat jy wil doen? Om half man, half vrou te wees?”

“Ek sien dit nie so nie. Ek meen, sure, daar’s mense wat transgender is, maar ek is nie. Ek bewonder net die kunsvorm, hoe dit mense toelaat om ander kante van hulself uit te druk.”

Ma is ’n rukkie stil terwyl die episode aangaan. Maar toe RuPaul op die verhoog kom, fluister sy, “Mense is al doodgemaak omdat hulle so aantrek.”

Ek krimp innerlik in een, maar hou my oë op die skerm. “Adnaan Davids,” fluister ek. Die drag queen wat in Maart 2020 wreed vermoor is.

Sy haal diep asem. “Ek gaan nie jok nie, dit maak my bang, die idee dat jy hierdie soort ding doen,” sy waai na die skerm.

Ek vries.

“Maar ek verstaan wat jy sê as jy sê dat hierdie mense, die Miss Vanjies, hul hele self is, reg?”

“Absoluut reg.” Dit kom as ’n fluistering uit.

“Dan,” sê Ma, “dink ek dit is dapper. Om duidelik te sê, ‘Dis wie ek is’.”

Ek knik.

“Nou ja, goed dan.” Sy klap haar hande. “Kom ons gaan raid my klerekas en kyk wat pas jou die beste.”

Ek snork saggies. “Thanks, Ma, but no thanks.”

“Sê jy my klere is boring?”

Ek tel my koeldrank op en lig dit na my mond.

“Ja, okei, maar wie hoef nou in ’n pandemie enigiets anders as comfy klere te dra?”

Ek hou aan drink.

Fine, dan gaan ons die good stuff onder die bed uitkry.”

Ek laat sak my koeldrank. Ma het ’n secret stash?

“Jy sien, ek het ’n lewe gehad voor ek jou ma geword het,” sê sy en gooi haar hande in die lug. “Hoe dink jy het ek jou pa ontmoet, hè?”

Ek het geen idee nie, het nooit gevra nie.

“Salsa-lesse.”

“Jy’t dansklasse gehad?” verstik ek.

“Ek was die dansinstrukteur.”

My mond val oop. Letterlik. Asof ek in ’n cartoon is.

“Jy’t sekerlik nie gedink jy’t jou ritme en moves van jou pa af gekry nie, het jy? Die man het twee linkervoete gehad.”

Die waarheid is, ek het, maar ek skud natuurlik my kop.

***

Vertel ons: Is jy heeltemal jouself as jy nie alleen is nie? Of voel jy jy moet ’n deel van jouself wegsteek as jy tussen ander mense is?