Ma staar na my, maar ek sit my oorfone op en probeer haar ignoreer.
“Die begrafnis was weke gelede,” sê Ma.
“Ek’t nie geweet daar’s ’n tydlyn as jy treur nie,” mompel ek.
Dit maak haar stil, en ek kyk uit die hoek van my oog hoe sy uit die kamer loop.
Ek weet nie wat begrafnisse te doen het met treur en grief nie. Nié dat ek kon gaan nie, obviously. Suid-Afrikaners word nie net verban uit amper elke land danksy die local korona-variant nie, maar het jy al ooit op jou eie probeer vlieg? As jy onder agtien is, moet jy ’n hele klomp dokumente hê: geboortesertifikaat, paspoort en spesiale goed wat deur albei ouers geteken is.
Albei. Ouers.
Ma het ’n paar oproepe gemaak, maar, ja-wel, nee goed, dis die prys wat jy betaal in die tyd van korona as jy en jou pa in verskillende lande, op verskillende kontinente, in verskillende halfronde bly. So ek het wakker gebly tot ná middernag (tydsones is ’n thing) om na my pa se begrafnisdiens op my foon via WhatsApp-video chat te kyk.
Nie dat Pa covid-19 gehad het toe hy dood is nie, maar covid-19 het sy dood veroorsaak, eenhonderd persent seker. Hy was in ’n karongeluk, krities beseer en het mediese sorg nodig gehad. Maar sy ambulans moes ure lank rondry op soek na ’n hospitaal wat nie vol was nie, te danke aan die virus. Dis hoekom ek sê hy is nie dood omdat hy covid-19 gehad het nie, maar covid-19 het steeds sy dood veroorsaak. Dis my waarheid.
My foon vibreer. Ma op WhatsApp: Skoolwerk?
Ek antwoord: Klaar.
Kyk, ek jok nie. Ek het die werk gedoen, maar toe is my brein klaar. En as dit klaar is, kan ek nie eens die plot van die nuutste Marvel-fliek volg nie, wat nog die bladmusiek vir my trompet lees. Ek mis goed. Iets word gesê en my brein is vol static, ’n gesuis, soos wanneer my ouma ’n radiostasie soek op haar radio wat ek sweer ouer as Ma is. My treurende brein veroorsaak hierdie luide, suisende stilte waarin niks sin maak nie.
My foon vibreer. Ma, al weer: Nog reality TV?
Moenie worry nie, antwoord ek.
Dis my werk om te worry¸ skryf sy terug.
Ek rol my oë, maar antwoord nie, en probeer op RuPaul’s Drag RaceM fokus. Drag queens is fantasties. As daai mans hul grimering aansit en vroue word, word hulle die susters en ma’s wat almal nog altyd van gedroom het. Kyk, Mama Ru het my sielkundige geword toe ek oor Pa getreur het. Sy is my shero, selfs al is sy oud genoeg om my ouma te wees. Sy is positief, maar sy kan ’n vertrek léés, sy’t ’n skerp tong, maar een wat almal steeds laat lag. Dis ’n talent, om dít te kan doen sonder om iemand af te kraak. RuPaul is ’n bouer. Hy laat mense regopper staan. Verstaan ons gays.
So, my vriende weet ek is gay. Maar nie … gaaay nie. Ek sal hulle nie vertel dat ek Drag Race kyk nie. Ek is maar net die goeie vriend wat nie meisies date nie. Nie een van dáái ouens wat sy ma se klere aangepas het voor sy van die huis af begin werk het nie.
Ek het.
Haar klere is terrible. Boring. Daar’s meer glamour in ’n steenkoolmyn as in my ma se kas. Sorry, not sorry. In elk geval, al weet Ma ek is gay, dink sy ook soos my vriende daaroor. Ek is maar net haar seun wat nie meisies date nie. Ek is nie gay nie.
En dis fine. Ek meen, ons ouers, different times, nè?
***
Vertel ons: Dink jy Theo is reg, dat sy ma net van ’n ander tyd kom? Of moet hy meer eerlik wees oor wie hy regtig is?