Dagga in Pa se kar! Dis die laaste strooi! Toe ek die teken gee, spring Stallone deur die kar se oop venster en land op die ou se kop. Die outjie gil gesmoord toe Stallone op sy gesig pie om die joint in sy mond te blus en nog katte in die kar in begin spring.

Die katte is oral op hom, hulle krap hom en skeur sy klere. Stallone gaan sit agter die ou se kop, vou sy agterpote om die ou se dun nekkie en trek met sy voorpote die man se kop na agter. Die dief se oë peul uit van vrees. Ek spring tot op die stuurwiel en gluur hom aan. Sy oë spring amper uit hul kasse uit. Hy herken my van die aand toe hy die motor gesteel het.

Hy is heeltemal verbouereerd, vasgevang in ’n nagmerrie bokant sy begrip. Ek bly in sy uitpeuloë staar en gee hom ’n boodskap met my kyk. Hy weet waarom ons hier is.

‘Vat hierdie kar terug na waar dit hoort . . .’ Dis die boodskap. Hard en duidelik.

Hy is vreesbevange, ek kan dit sien. Hy knik, of probeer sy kop knik, om te wys hy verstaan.

So ry ons terug na Pa se huis toe. Ek sit op die paneelbord, Stallone op die dief se nek en ’n kat op elk van die pedale. Dis vroegoggend en daar is min karre op die pad. Die skelm ry rond en bont, want hy bewe vreeslik van vrees. Hy gil en ry amper in ’n muur vas toe Stallone ’n straaltjie teen sy nek af spuit.

Hy parkeer die kar in Pa se inrit. Ons spring uit en wag dat hy probeer weghol. Hy skakel egter die enjin af, sluit homself in die kar toe, maak die vensters toe en begin vir homself sing – duidelik heeltemal van sy trollie af.

Pa hoor die geluid, staan op en kyk deur die venster. Daar staan sy kar met die dief binne-in toegesluit. Pa is skoon verwilderd terwyl hy dit alles verwerk. Toe sien hy ons almal op die mure en dakke sit. Hy verstaan en begin stadig te glimlag.

Ek loop na hom en kyk in sy oë. Hy kniel, vryf my kop en nooi my in, maar ek draai om en loop weg, terwyl ek dink: Nou kan jy maar rustig slaap, Pa.

Dis tyd dat ek gaan.

Ek spring oor die muur sonder om weer om te kyk.

Ek gaan vir my ’n geheime plek kry waar ek myself kan neerlê om te sterf. Ghaddafi roep my.

Vertel ons: Laat enige van die katte jou aan mense dink wat jy ken? Het jy van die katte se wraak op die dief gehou?