Ná my eerste dag goed afgeloop het, neem ek aan die res van die week sal kinderspeletjies wees. Ek begin dus die volgende dag met dieselfde entoesiasme, al moet ek eers skool toe gaan. By die skool raas my ouer nefie Ansaar met my. “Jy moet nou net nie te groot vir jou skoene word nie, laaitie. Dis harde werk, maar jy moet jou bes doen en jou oë oophou vir tsotsis, veral shoplifters. Dan sal jy okei wees.”

Ek knik, maar as ek eerlik moet wees, klink dit vir my onnodig, want ek dink net die duiwel sal my pa se winkel beroof. Ek was seker maar ’n bietjie naïef, dalk is ek nog steeds, maar ek groei dag vir dag en leer die menslike natuur beter verstaan. Die een ding wat ek daardie dag sou leer is dat ’n blom in die donker kan blom en die witste lelie uit die modderigste water kan groei.

Ek het pas by die winkel aangekom ná skool. My pa en oom Teddy moes gou ’n paar draaie ry, so ek moes self na die kopers omsien. Ek was nie bekommerd nie, tot ’n hele span mense opdaag en ek bang word dat ek nie almal sal kan dophou nie. Ek besluit toe ek sal kalm bly en my bes doen.

Ek het later amper almal gehelp, tot daar net twee ouens oor is. Ek is veilig in die hok, maar een van die ouens, ’n lang ou met ’n ligte vel roep my. “Ek sê camel jockey! Kom kry vir my ’n Coca-Cola uit die yskas, ek kry nie die deur oop nie, dit sit vas. Dis jou gebreekte deur, so jy moet dit kom oopmaak.”

Ek voel ’n rilling vinnig teen my rug op kruip. Toe ek die sekuriteitshek oopmaak, kom staan die korter, donkerder ou by die hek. Ek loop uit, en vergeet skoon om die hek te sluit. Hoe dom kan jy wees! Al die geld, sigarette, en die ander goed wat maklik gesteel en weggesteek kan word is daar.

Ek loop na die yskas waar die lang ou staan. “Kan jy asseblief uit die pad staan sodat ek jou kan help?” vra ek vriendelik.

“Voetsek, kwerekwere, voetsek uit ons land!” skree hy en klap my hard deur die gesig. Ek is maar ’n maer outjie, so ek val dat ek hop en hy begin my hard op my bolyf en kop skop.

So tussen die skoppe deur sien ek uit die hoek van my oog ’n derde ou in die winkel se ingang verskyn. Die kort ou wat by die hek gestaan het is besig om ’n sak vol te prop met alles waarop hy sy hande agter die toonbank kan lê.

“Help, help!” roep ek.

Die derde ou kom ingestorm. “Hei, voetsek! Voetsek!” skree hy en tel ’n groot bottel Nola mayonnaise op. Hy mik na die ou wat my skop en gooi. Die bottel mayonnaise tref die lang ou teen die kop, sodat jy net mayonnaise sien spat. Hy val soos ’n klip, lights out, sy kop vol mayonnaise.

Die kort ou agter die toonbank kom met sy hande bo sy kop uit, hy wil duidelik nie dieselfde paadjie as sy pel loop nie. Die derde ou bind hulle gou vas met ’n tou. Die hele tyd noem hy hulle ‘boza’ en ek wonder of hy hulle dalk ken.

Boza, julle sal julle verdiende loon kry wanneer die eienaar hier aankom,” sê my redder vir die kort dief, wat regop sit langs sy snorkende pel. “Kan jy nie sien hierdie boza is nog ’n laaitie nie?”

Die derde ou is groot en het ’n ronde maag. Sy kop is kaal, sy vel redelik donker en sy stem klink of dit ’n weermag kan beveel of ons mooi land kan regeer.

Boza, is jy okei?” vra hy my besorg.

“Ja, ek is okei, dankie,” sê ek, “alles te danke aan jou. Jy’t my lewe gered!” My ribbes begin al beter voel, hulle is net seer as ek lag.

Yizo, boza, ek is net bly ek kon betyds help. By the way, jy lyk nes jou pa.”

Ngiyabonga mfowethu,” antwoord ek. “My naam is Ayman.”

Hy glimlag breed en hou sy hand na my uit. “My naam is Christopher, maar almal noem my ‘Boza’. Ek is bly om jou uiteindelik te ontmoet, jou pa het my al so baie van jou vertel.”

Toe my pa daar aankom, vertel Boza hom wat gebeur het. “Baba Ayman, ek is so jammer oor wat met jou seun gebeur het,” sê Boza.

“Toemaar, Boza, ek is net bly jy het opgedaag voor dinge erger geraak het. Danksy jou is my seun okei,” antwoord my pa.

“Ek is bly ek kon help,” glimlag Boza. “Gelukkig is niks gesteel nie. En die ware held is die bottel mayonnaise!”

My pa bied Boza enigiets in die winkel aan as beloning, maar hy weier dit en sê my pa moet eerder vir my dankie sê as vir hom. My pa gee dus vir ons Coca-Cola, Tennis-beskuitjies en lugtyd. ’n Ruk later daag die polisie op om die twee rowers op te laai en ons verklarings te neem.

Ons vee die mayonnaise op en ek ruil my bebloede hemp vir ’n ou T-hemp in my pa kattebak. Daarna gaan staan ek en Boza buite en gesels. Hy rook ’n sigaret wat hy met sy eie geld gekoop het. Dis toe dat ek uitvind hoekom hy almal ‘boza’ noem. Dit beteken ‘baas’ of ‘boss’ en hy noem almal so, want in sy oë is almal gelyk.

Toe ek daardie aand gaan slaap, is ek vreeslik opgewonde. Ek sê vir Allah dankie dat hy Boza in my lewe in gebring het, want ek weet sommer ons gaan goeie vriende wees. Ek wet ook solank Boza in Ekuthuleni by my is, sal ek veilig wees.

***

Vertel ons: Wat dink jy van Boza?