Die naweek het gou verby gevlieg, ek het nie eens die kans gehad om myself vir my eerste werkdag voor te berei nie. Dié Maandagoggend word ek wakker as ’n werknemer van my pa en ek moet sê, dit was ’n wonderlike gevoel.

Ek is natuurlik voor almal anders in die huis wakker dié dag: my ma, my pa en die besoekende familie en ooms wat op die bank slaap omdat hulle pas hier aangekom het uit Ethiopië.

Toe ek my tande daardie oggend borsel, is ek nie net Ayman Abdullah, ’n middelklas-leerling nie. Ek borsel my tande ekstra skoon want ek weet ek sal baie vir die kopers moet glimlag, almal vertrou mos ’n vriendelike gesig. Ek trek my beste kofia en djellaba aan en ek moet sê ek voel skielik langer, sommer vyf meter lank. Ek het beslis oornag ’n paar sentimeter gegroei.

“Jy kan ver kom met ’n glimlag op jou gesig …” Dié woorde het iemand in ’n gangster movie gesê wat ek gekyk het toe ek jonger was, en ek het dit my motto gemaak. Die tweede deel van die motto, “… maar jy kan selfs verder kom met ’n glimlag en ’n geweer in jou hand”, los ek maar uit, dis nou nie eintlik my style nie.

Ná almal skoon gewas en aangetrek is, bekyk pa ons almal waar ons op ’n ry voor hom staan. Toe hy tevrede is met sy inspeksie, draai hy dramaties na my, sodat die moue van sy blou djellaba flap.

“Ayman, jy sal saam met jou oom Teddy werk!” sê hy vreeslik ernstig.

“Ja, Pa!” sê ek en salueer amper.

“Maar eers nadat ons die aflewerings in Welasi gemaak het!” sê hy weer ewe ernstig.

“Ja Pa!” antwoord ek en probeer om nie te lag nie, want my pa klink soos ’n generaal of iets. Ek is nie gewoond om hom so te sien nie, ek het dié sy van hom nog altyd net skrams gesien.

My oom Teddy het pas uit Ethiopië aangekom en hy lyk baie groot en indrukwekkend, maar sal nie ’n vlieg seermaak nie. Hy lyk nogal soos Jim, die swart ou in The Adventures of Huckleberry Fin. Aangesien dit duidelik is dat oom Teddy die spiere gaan wees in die winkel, lei ek af dat ek die breins gaan wees – dis nou natuurlik as my pa nie daar is nie.

Oom Teddy en ek leer mekaar beter ken tydens ons rit na die winkel in die township. Ek weet ek is nou nie eintlik een om te praat nie, maar oom Teddy is so groen hy sal nie ’n dag op straat oorleef met sy swaar Oromo-aksent en net een Zoeloe-woord, ‘Yebo’, in sy woordeskat nie.

Nie dat ek hom kan judge nie, ek is maar net ’n maer Moslem-laaitie van Milan Park en ek is vir die eerste keer op pad na die township toe, of ‘the hood’ soos die Amerikaners dit noem.

Dit lyk nie te sleg nie. Deur die motorvenster sien ek ’n ou wat op die straathoek koerante verkoop. Twee mans loop van agter op hom af en ek dink OMG! hulle gaan hom aanval! Maar my pa hou stil langs hulle en ek sien die drie mans lag nou almal en deel ’n sigaret. My pa koop die Daily Mail by die verkoper en ons ry verder.

Ek is ’n bietjie bang, maar sluk dit gou toe ek die vreugde op my pa se gesig sien toe ons stop en mense naderstaan en my pa vriendelik te groet. Hy glimlag en groet respekvol terug. My pa fluister vir my: “Hulle is Sasol-mynwerkers. Jy weet, hulle is elke oggend hier.”

My pa se winkel is op die hoek van Main Road. Die winkel lyk van buite nie na veel nie. My pa se naam is verkeerd gespel op die wit-en-blou geverfde naambord – Adbullah’s Tuck Shop, verwelkom dit kopers. Eers toe my pa die deure oopsluit en ek binnetoe loop, besef ek dit is soos Snoopy se hondehok – baie groter binne as wat dit van buite lyk. Daar is twee yskaste, een met vleis en een met melk en koeldrank. Die rakke staan so dat jy van die toonbank voor in die winkel af alles kan sien. Die toonbank met die kasregister is toe in ’n stewige staalhok waarin die kassier veilig kan sit.

My eerste dag verloop glad, al is ten minste ’n derde van die mense teleurgestel deur die nuwe sheriff op die dorp. Uit daardie derde het die helfte van hulle nie genoeg geld om te koop wat hulle begeer nie, terwyl die res daar is om vir krediet te vra of geen geld het nie en maar hoop dat die nuwe ou agter die toonbank simpatiek sal wees.

Die Magogos noem my ‘cute’ en wil my wange knyp, die vroue noem my ‘mfana’ en die mans noem my ‘grootman’ – nogal weird!

Ek doen my bes om elkeen tevrede te stel. Min weet ek dat die hood jou heel kan insluk as jy nie versigtig is nie. Ek sou egter gou leer dat sommige mense jou sal haat al doen jy ook jou bes, terwyl ander soos helde sal optree.

***

Vertel ons: Het jy ’n slagspreuk of motto vir jou lewe? Wat is dit?