Die fotosessie is vir die komende Saterdag gereël. Ek dagdroom die hele week sonder ophou daaroor.
Op die dag haal ek die trein stad toe. Die ateljee wat hy vir die dag gebruik, is langs die kollege waar hy studeer en is ’n enorme vertrek vol natuurlike lig.
Daar is omtrent vyftien mense by die fotosessie betrokke – haarstiliste, grimeerkunstenaars, beligtingsoperateurs, en kamera-assistente. Almal is baie gaaf en hoflik met my – ek voel onmiddellik bietjie soos ’n glanspersoonlikheid!
Tien minute later is ek in ’n avant-garde-rok. Vir my lyk dit ’n bietjie na ’n wetenskapfiksie-skepping. Die kraag is supergroot, en die skouerkussings voel soos vlerke.
Ek sien Jonah na my toe aangestap kom. Ek voel skaam in my uitrusting, maar nie so skaam soos toe ek hom die eerste keer ontmoet het nie. Hy gooi sy arms oop in ’n goedkeurende gebaar.
“Ongelooflik! Jy lyk soos ’n kunswerk!”
Hy lei my na die werksarea. Dis baie helder en die ligte het wit sambrele oor om die lig in verskillende rigtings te laat bons. Toe ek gaan sit, begin my oë traan.
Jonah se gesig val. “Is als reg? O, nee, h … huil jy?”
“Dis niks,” sê ek en knip die trane weg. “My oë is net baie sensitief. Omdat ek ’n …” Voor ek “albino” kan sê, knik Jonah, en roep: “Doof die ligte!”
Hy is beslis die baas hier rond. Die ligte is onmiddellik minder intens, en ek kan weer sien.
Die fotosessie verloop soos ’n droom, ’n droom wat ek wens vir ewig kan aangaan.
Jonah vertel my ek is ’n natuurlike model, dat my gesig uitdrukkingsvol is, en dat hy van die eerlikheid hou wat ek uitstraal wanneer ek na die kamera kyk.
Ek het nie geweet eerlikheid is ’n vaardigheid nie. Tog is ek verheug.
Elke keer as ’n lig flits, verbeel ek my dis sy lippe wat my soen.