Die partytjie begin Saterdag om vyfuur en ek moet ’n bus soontoe haal.

Die oomblik toe ek deur die tuinhek stap, sien ek iets is verkeerd. Twee kinders sit op die voorstoep se trappies. En nie een van hulle het kostuums aan nie.

Die voordeur is oop. Ek stap in. Toe ek in die woonkamer kom, voel ek omtrent vyftig paar oë op my.

In een kil oomblik wat voel of dit ’n ewigheid aanhou, besef ek: Nie Een Van Hulle Het ’n Kostuum Aan Nie.

Die eerste een wat praat, is Charmaine Johnson. Sy is deel van ons hoërskool se koningsgesin. Moenie my vra hoekom nie. Sy is taamlik dom. Sy dra ’n klein goue nommertjie, omtrent so groot soos ’n sakdoek. Ek skat dis mode.

Sy staan langs Kim Wafer, wat net soos sy lyk.

Kim trek ’n gesig. “Wie is jy veronderstel om te wees? Lady Gaga?”

“Niemand nie,” antwoord ek koel. “Ek is veronderstel om ek te wees. Soos wie het jy gekom?”

“Niemand nie!” kap sy katterig terug. Sy beweeg haar hande op en af teen haar lyf. “Dis die mode.”

“Daardie sjokoladepapier? Jy kon my geflous het,” sê ek, en stap na die tafel met drankies om ’n glasie pons te kry.

Ek hoor mense lag. Ek is bly ek kan nie Kim se gesig sien nie. Ek wed haar oë gooi messe in my rug.

Die partytjie is toe baie makliker as wat ek gedink het dit sal wees. ’n Klomp kinders, party van hulle selfs van my klas, vra of hulle ’n foto saam met my kan neem. Vir omtrent ’n uur voel ek nie bang nie. Dis byna asof die kostuum my beskerm, my toelaat om iemand anders te wees.

Maar dit is uitputtend. Teen 7.30 nm. het ek genoeg gehad. Ek stap tuin toe. Die tuin is vol papierlanterns en daar hang ook lanterns in die bome. Dit lyk betowerend – soos ’n sprokieswoud.

Ek sien ’n figuur by ’n paar roosbome staan met ’n kamera wat na die lug wys. Hy dra ’n donkerblou parka. Ek gee ’n tree vorentoe. Takkies kraak onder my hakke – kraak!

Hy laat sak sy kamera en draai na my. “Is dit nie mooi nie?” vra hy.

Ek is so verstom dat hy so skielik met my praat, en so openlik, dat ek nie weet wat om te sê nie. Hy kyk weer op in die lug. Ek volg die pad van sy oë en sien wat hy sien. Natuurlik. Die maan.

Selfs in die maanlig en in die flikkerende lig van die lantern kan ek sien hy is aantreklik. Hy lyk soos iets uit Teen Vogue, om eerlik te wees.

“Ek’s Jonah,” sê hy glimlaggend, en ek weet ek is in ’n dwaal terwyl ek na hom staar.

Ek maak keel skoon. Skielik wil ek hoes. Wonderlik, Aggy, gaan nou aan’t hoes of jy TB het. Ek kry dit reg om my naam te sê: “Agnes.”

Ek vind uit sy naam is Jonah Farrier, dat hy half Joods is, dat sy ma boeke skryf oor hoe om met ’n begroting te reis, en dat sy pa een van die eerste bruinmense was wat in Groote Schuur-hospitaal gebore is.

Net toe ek in die grond wil wegsmelt van sy dromerige bruin oë, loer ’n ou met Rastalokke om die skuifdeur en skree: “Bro! Ons gaan!”

“Net ’n minuut!” antwoord Jonah, en sy stem seil gemaklik oor die grasperk.

“Daar’s iets wat ek jou wil vra,” sê hy.

Ek wag met opgehoue asem.

“Ek is besig om hierdie kalender vir Kaapstad Ontwerpmaand saam te stel. Die tema is ‘Unieke Suid-Afrikaners’. Ek sal jou graag wil afneem. Jy lyk regtig asemrowend.”

Ek probeer verstaan hoe hy “jy lyk” en “asemrowend” in dieselfde sin kon sê. My brein probeer dit verwerk, maar kry dit nie reg nie.

Hy voel aan hoe pynlik skaam ek is. “Ek sal natuurlik verstaan as jy dit nie wil doen nie, maar – ” Hy gee my kans om nee te sê, maar ek het dit nie nodig nie. Ek weet ek wil dit doen. Ek wil hê hy moet my sien. Ek wil hê hy moet my sien soos ek is.

“Ek sal dit doen.”

’n Glimlag sprei stadig om sy sagte lippe. Dis soos om na ’n sonsopkoms te kyk.