Ons spring nog vier dae vorentoe. Dis die dag voor die partytjie. My maag is van die oggend tot die aand op ’n knop getrek. Ek is die ene senuwees.
Plus, daar is die kostuumfaktor. Ek staan uit as ek net gewone klere dra, wat nog te sê ’n partytjiekostuum.
Ek en my ma woon in ’n woonstel met twee slaapkamers in Argylestraat, Woodstock. Dis net af van die hoofstraat af, en dus taamlik raserig. Ek slaap met oorpluisies, want soggens vroeg maak die gaatjies wat uit die taxi’s skree ’n groot lawaai. Dis nie die beste woonbuurt nie, maar Ma sê dit word beter.
Later, terwyl ons na The Bold and The Beautiful sit en kyk, dink ek hardop.
“Dalk sal ek net nie gaan nie. Die kostuumding stres my te veel uit.”
My ma kyk na my. Dan tel sy die afstandbeheer op en doof die klank uit.
“Wat? Komaan, Aggy. Jy moet gaan. Ek sê jou wat. Ek sal jou help om iets te maak.”
My ma is ’n naaldwerkster, en daarom is sy baie goed met naaldwerk.
“Ons kan vir jou ’n prettige kostuum maak. Ons kan jou soos ’n oulike heks laat lyk!”
Twintig minute later is ons terug op die rusbank, met Ma se naaldwerkstelletjie op die lae tafeltjie voor ons. Sy is gewoond daaraan om naaldwerk te doen en te brei terwyl sy TV kyk en ons kan nog sien wat in Bold aangaan terwyl ons werk.
Ek en my ma sit en kyk na die volgende program ook. Dis lekker – net die twee van ons. Ons kyk met ons naaldwerk in ons hande en snak na ons asems en lag vir die mense op TV se dramatiese lewens.