Sipho

Sipho het angstig gevoel. Dit was amper agtuur en hulle het in ’n verkeersknoop vir die afgelope vyftien minute vasgesit. Daar was ’n openbare vervoerstaking en Agnes het met haar broer gereël om hulle almal skool toe te neem. Die meeste van die ryk kinders is elke dag skool toe aangery. Die staking sou hulle nie affekteer nie. En hulle het naby die skool gebly. Sipho moes die hele pad van die township af kom.

Sipho het bly dink aan die brief wat hy van die Hoof gekry het. As hy weer laat sou wees sou hy geskors word.

“Moenie so bekommerd wees nie my kind,”het Agnes gesê, en teruggedraai om na Sipho te kyk, “Ek sal met die Hoof praat as hy vir jou moeilikheid maak. Ek sal die situasie verduidelik.”

“Hoekom kry jy nie jou nuwe ‘vriende’ om jou teen die Hoof te beskerm nie?” het Gloria sarkasties gefluister. Sy het hom nog steeds gepla omdat hy vriende met die Graad-11 seuns wou wees. “Ek hoor een van daardie seuns se pa is op die bestuursraad van die skool.”

“Het Sipho nuwe vriende?” het Agnes gevra en na Gloria gekyk. “Dis goed. Sipho ek weet dit was vir jou moeilik om in te pas. Dis goed dat jy uiteindelik vriende maak.”

“Ek sou nie sê dit was goed nie”, het Gloria gesnork. “Dis daardie Graad-11 seuns Ma. Jy weet die ouens wat dink hulle is so koel. Dié wat op die jonger seuns pik. Almal weet dat iets met daardie nuwe seun in Graad-8, Tom gebeur het. Gerugte doen die rondte. Daardie Graad-11 seuns, Jaco en sy span. Hulle het iets aan daardie seun gedoen. Ons moet daaroor praat. Daardie seun is te bang vir hulle om die waarheid te praat. Iemand moet die waarheid praat Mamma.”

“Het daardie seun Tom, jou enigiets vertel?” Het Agnes vinnig gevra. “Oor die geboelie?”

“Nee, maar ek weet dit het gebeur. Ek het die ander hoor praat. Daardie Graad-11’s kannie hulle monde hou nie. En ek gaan iets–”

Haibo, Gloria, jy weet dit nie verseker nie,” het Sipho vinnige onderbreek. Hy wou nie glo dat daardie seuns wat hom vriendskap aangebied het, wat aangebied het om hom teen die boelies te beskerm, self boelies kon wees nie. Dit het nie sin gemaak nie. Maar Gloria het nie geantwoord nie. Sy het in plaas daarvan met haar ma gepraat.

“Praat asseblief met Sipho Mamma. Hy dink daardie seuns wil regtig met hom vriende wees omdat hulle van hom hou. Maar hulle is moeilikheid. Hulle doen alles met ’n rede. Hoekom sou hulle met ’n Graad-8 wou maats wees? Hulle wil iets met hom aanvang, soos hulle met daardie seun, Tom gedoen het.”

Sipho het ongemaklik gevoel toe hy die uitdrukking op Agnes se gesig gesien het. Wat het sy van hierdie seuns geweet? Haar uitdrukking was moeilik om te bepaal. Maar daar was afsku, en woede en iets anders – vrees. Maar sy het haar mond toe gehou.

Toe hulle by die skoolhekke afgelaai is, het Agnes Sipho se arm geneem. Hy kon sien sy het probeer besluit of sy hom iets moes vertel of nie. Uiteindelik het sy vinnig gesê, “Wees versigtig vir daardie seuns. Hulle is ’n slegte klomp Sipho. Gloria is reg.”

En toe het sy weggestap na die kombuise om haar skoonmaaktoerusting te kry.

Gloria was alreeds voor Sipho uit, terwyl sy die gang afhardloop na hulle klaskamers toe. Sy het by die hoek afgedraai en was weg terwyl hy agterna gehardloop het. Terwyl hy haar probeer inhaal het het hy ’n bekende stem vorentoe gehoor. Toe hy om die hoek kom het hy ’n woedende Gloria gesien, omring deur Jaco, John en Ricardo. Hulle het spottend gelag. Gloria het hulle met vurige oë aangegluur.

“Haai, Sipho, my ou,” het Jaco gegroet, en sy arm om Sipho gesit. “Jou meisie tree bietjie mal op. Ons het haar net geterg. Net ’n bietjie pret.”

Sipho het verdeel gevoel. Gloria het hierdie saak heeltemal te ernstig opgeneem. Hy kon sien dat sy gewag het dat hy moes kant kies –haar kant. Maar hy het te lank geaarsel, en dit was te veel vir haar.

“Goed so, ke, ek kan sien ek beteken niks vir jou nie!” het sy kwaad gesê terwyl sy wegstorm.

Die seuns het hom op die skouer getik. “Meisies nè, ” het hulle gelag, asof hulle met sy dilemma simpatie gehad het.

“Haai, moenie ons klein ooreenkoms vergeet nie,” het Ricardo geknipoog.

“Ja, môre is die dag, ” het John gelag. “Dan sal jy regtig een van ons wees.”

“Niemand sal ooit weer met jou mors nie, dit sweer ons,” het Jaco gesê. “Is jy reg?”

“Ja, ” het Sipho gesê, maar binne in was hy glad nie gereed nie.

“Om die waarheid te sê ouens, hoekom vir môre wag. Carpe diem… Weet jy wat dit beteken?” het Jaco gevra. Sipho het sy kop geskud. het Jaco gelag. “Vertel hom wat dit beteken, John.”

“Dis Latyn. En dit beteken ‘gryp die dag’, Sipho. Moenie dinge vir môre laat nie.”

“Na skool by die toilette, Sipho…. moenie laat wees nie,” het Ricardo geroep terwyl hulle die gang afhardloop.

En hulle was weg.

Sipho kon op niks in die klas konsentreer nie. Hy was vreesbevange. Hy kon ontsnap, en by die agterste uitgang van die skool uitgaan. Maar wat dan? Daar was geen taxi’s om hom vandag huis toe te neem nie. Wat sou hy vir sy ma sê? Wat sou die onderwysers doen as hy nie na pouse in die klas opdaag nie? Vir die Hoof vertel. Hy sou sekerlik uitgesit word. En hy moes deur die hele dag gaan terwyl hy so gevoel het. Hoe sou hy tuis kom nadat hy hulle ná skool ontmoet het? Wat sou hulle met hom doen by die inisiasie?

Tydens pouse en hy uitgeloop het op die vierkant, het hy gesien hoe Gloria met die ander nuwe seun in Graad-8 praat. Die een wat so eenkant was. Was dit die seun wat die Graad-11’s gespot het? Het sy hom gevra wat werklik gebeur het? Toe Sipho nader aan hulle gekom het het Gloria opgestaan en weggeloop. Sy wou nie met hom praat of na hom kyk nie.

Sipho het besef dat hy elke pouse by Gloria gesit het – sonder haar het hy niemand gehad om mee te gesels nie.

Die ander Graad-8 seun het sy boek uit gehad en was besig om te werk. Sipho het na hom gegaan en langs hom gaan sit. Hy was in ’n ander klas as Sipho, maar die seun het hom herken.

“Haai,” het Sipho gegroet, terwyl hy sy hand uitgehou het. Maar die seun het nie geantwoord nie. Hy het nie Sipho se hand geskud nie.

“Ek weet wie jy is,” het hy uiteindelik saggies gesê. “Gloria het my vertel.”

Hy het aanhou werk en nie opgekyk nie. Sipho kon sien die seun wou gehad het dat hy hom moes uitlos. Maar hy moes die waarheid uitvind. En hierdie seun het gaaf gelyk, selfs al wou hy nie vriende maak met Sipho nie.

“So waarmee is jy daar besig?”

“Ek doen net Mev Snyman se Engelse taak,” het hy geantwoord en na die teksboek gewys wat oop langs hom gelê het.

“Koel, man. Dis duidelik dat jy ’n A+student is.”

“Dankie. Maar moenie met my praat of ek ’n kleintjie is nie, Sipho. Ek weet hoekom jy regtig hier is. Gloria het my van jou vertel en hoe jy nou vriende met Jaco-hulle is. Sy weet hulle het my geboelie. Sulke stories versprei, weet jy.”

“Wat het hulle met jou gedoen?” het Sipho gevra, terwyl sy hart in sy borskas gehamer het.

“Ek kan jou nie vertel nie. Die skool is nou besig om dit te hanteer.” Hy het teruggekyk na sy boeke.

Sipho het gedink wat Ricardo en Jaco en John vir hom gesê het. “Dit sal ons geheim wees.”

“Het hulle jou geïnisieer?” Het Sipho uitgeblaker.

“Ek kannie praat nie, Sipho. Al wat ek kan sê is dat daardie ouens sleg is, en as jy nie wegbly van hulle af nie sal jy net so sleg soos hulle wees. Moenie hulle vriend wees nie, Sipho. Hulle is aaklige boelies.”

En toe het die sirene gelui om pouse se einde aan te kondig.

***

Vertel ons wat dink jy: Wat se keuses het Sipho? Watter raad sou jy hom gee om te doen?