“Ons gaan winkels toe! Ons gaan winkels toe!” Afrika spring op en af voor Dintle. Sy mamma, Mme wa Afrika, glimlag vir hom en Dintle klap haar handjies. “Ja,” sê Mme wa Afrika, “trek gou jou skoene aan. Ons moet gou maak. Ons moet nog tot by die bushalte stap.” By die bushalte is daar baie mense wat vir die bus wag. En toe hulle almal in die bus is, sit hulle styf teen mekaar vasgedruk. Mme wa Afrika tel vir Dintle op haar skoot. Toe gaan sit ’n vrou langs haar. Afrika sit aan die ander kant van sy ma, reg teen die venster vasgedruk. Maar hy gee glad nie om nie, want dit beteken hy kan by die venster uitkyk.

Uiteindelik roep die busbestuurder:

“Laaste halte!”

“Komaan, Afrika. Dis waar ons afklim,” sê sy ma.

Toe hulle al drie van die bus af is, maak Mme wa Afrika vir Dintle op haar rug vas. “Bly naby my,” sê sy vir Afrika. “Hierdie mark is ’n baie besige plek.”

Dis omtrent besig. Daar is mense wat sake dra en trollies vol inkopies stoot. Daar is ook ’n vrou wat haar inkopies op haar kop balanseer.