Kan jy dit doen, Mamma?” vra Afrika vir sy ma.

“Wat doen?” vra Mme wa Afrika.

“Goed op jou kop ronddra, soos daardie vrou,” sê Afrika.

“Natuurlik kan ek. Dis maklik,” sê sy ma. Afrika kyk hoe die vrou wegstap tot sy in die skare mense tussen die stalletjies van die mark verdwyn.

“Ek’s seker ek kan ook goed op my kop dra!” sê Afrika vir homself. Hy sien ’n leë plastiekkoeldrankbottel op die grond. Hy tel dit op en sit dit op sy kop, maar hy moet dit vashou, want dit bly afval.

“Eish!” sê ’n meisie reg langs hom. “Ek sal jou wys hoe om dit te doen!” Sy vat die koeldrankbottel, sit dit op haar kop, en met haar neus in die lug, stap sy om Afrika soos ’n trotse prinses.

“Joe!” sê Afrika, baie beïndruk. “Wat’s jou naam?”

“Ek’s Asanda,” sê sy.

“Ek’s Afrika. Hoe het jy geleer om dit te doen?” vra Afrika.

“Ek het eers probeer om met boeke op my kop rond te loop,” sê sy. “Jy moet jou kop stil hou wanneer jy loop.” Sy sit die koeldrankbottel weer op Afrika se kop. “Stap nou stadig, met jou neus in die lug, soos ’n prins.”

Afrika stap baie stadig om Asanda, en hou sy kop stil, met sy neus in die lug. En die bottel bly op sy kop!

“Kyk, Ma! Kyk na my …” sê Afrika, maar hy kan nie sy ma sien nie! Iemand stamp teen Afrika en die koeldrankbottel val van sy kop af. Maar hy het van die bottel vergeet – hy wil weet waar sy ma is!

“Mamma, waar’s jy?” roep hy. Daar’s geen antwoord nie. “Mamma!” roep hy effens harder. Nog steeds geen antwoord nie.

“My ma het afgedwaal!” sê Afrika vir Asanda.

“Ons was op pad na die boekstalletjie op die hoek, maar nou is sy weg!”

“Ek is ook op pad na die boekstalletjie toe! Ek gaan ’n storieboek koop met die geld wat ek gespaar het. Dalk is jou ma by die boekstalletjie. Kom ons gaan soek haar!” stel Asanda voor.

Saam stap Asanda en Afrika deur die skare mense. Skielik hoor Afrika sy naam! “Afrika! Afrika! Waar is jy?