Die son het naderhand al gesak. Dit het koeler geword.
Waar was ons klere?
Ons het onder die bome gesoek. Ons het in die bosse gesoek. Ons het oral gesoek.
Naby die rivier het ’n paar koeie op die soet gras gewei.
Bontle het opgekyk. “Kyk na daardie koei! Wat is daar in haar mond?”
“Sy eet ’n blom,” het Lerato geantwoord.
“Dit is nie ’n rooi blom nie,” het Mpho geroep. “Dis jou hemp!”
Toe sien ons ’n ander koei wat aan ’n blou ding kou.
“Dis my romp!” het Bontle geroep.
Ons het uiteindelik bewend in ons onderklere huis toe gegaan. Maar ons het nie net gebewe omdat dit koud was nie.
“Dit was die koeie,” het ons gehuil. “Die koeie het ons klere geëet.”
Maar het Ma ons geglo?
Gou was ons boude baie warm. En dit was nie van die son nie.