“Komaan, almal!” roep Tin. “Kom ons hou partytjie! Of het julle die We Can Band nodig om julle te help?”

“Ja, ja, ja!” skree die skare.

Tin kyk om haar rond. “Waar is die groep? Ag, nee, ek sien hulle nêrens nie. Dis nie ’n partytjie sonder ’n musiekgroep nie. Ek gaan hulp nodig hê. Net ’n span vol pret kan hierdie droom red!” Tin glimlag terwyl sy na die skare kyk. “Eers het ek twee tromspelers nodig.”

Neo en Hope se hande is eerste op. Toe hulle op die verhoog klim, lei Tin hulle na vier groot kof_ eblikke met plastiekdeksels. Die blikke is met helderkleurige papier en knope versier. Daar is ook tromstokkies vir Neo en Hope om te gebruik.

“Nou het ons iemand nodig om die rammelaars te skud,” sê Tin.

“Josh! Kies vir Josh!” roep Neo.

“Is daar iemand met die naam Josh hier? Waar is Josh? Kom ons kry hom op die verhoog,” lag Tin.

Josh steek sy hand op. Twee mans tel sy rolstoel op die verhoog.

“Welkom, Josh,” sê Tin. “Toets gou hierdie twee rammelaars uit.”

Josh skud een en dan die ander een. Dit maak verskillende klanke.

“Wonderlik,” sê Tin. “KOM ONS MAAK …”

Maar voor sy kan klaar praat, is daar ’n klaterende lawaai. Almal kyk rond om te sien wat dit kan wees.

Net toe hardloop Noodle oor die verhoog en sleep ’n tou met blikkies wat daaraan vasgemaak is, agter hom aan.

“Die blikkieklokke!” roep Tin. “Ek het gedink ek het dit verloor.”

Bella hardloop na die verhoog toe. “Noodle!” roep sy. Noodle hardloop na Bella toe, met die blikkies wat klingelend agter hom aansleep.

“Los hom,” sê Tin laggend. “Ek dink Noodle wil deel wees van die We Can Band. En ek dink hy wil hê jy moet ook kom,” sê sy en wys na Bella.

Tin help vir Bella op die verhoog op en saam probeer hulle vir Noodle uit die blikkies loswikkel. Toe gaan staan Bella en Noodle langs Neo, Hope en Josh.

Tin tokkel op haar kitaar en sê: “KOM ONS MAAK MUSIEK!”

Toe Tin na Neo en Hope wys, slaan hulle die tromme. Toe sing Tin: “Linkervoet terug,” en sy wys na die skare.

“Linkervoet terug,” sing die skare.

Toe wys Tin na Josh en hy skud sy rammelaars op maat van die musiek.

“Regtervoet terug,” sing Tin.

“Regtervoet terug,” sing die skare.

Tin wys na Bella. Die ry blikkies klingel pragtig toe Bella dit swaai en hulle teen mekaar kap. Noodle blaf opgewonde.

Gou is die partytjie op dreef. Tin sing haar liedjies terwyl Neo, Hope, Josh en Bella saamspeel. En elke nou en dan blaf Noodle saam!

Toe sing elkeen van die ander kunstenaars ’n liedjie van hul land. Die skare juig en klap hande. Hulle is dol oor die vertoning!

“Kyk net,” sê Tin vir die We Can Band, “hierdie spannetjie vol pret het die droom gered! Danksy julle vier … en Noodle, kon almal ’n heerlike partytjie geniet!”