Neo, Josh en Hope is almal by Gogo se huis. Hulle lag en gesels kliphard.

“Sjjjj!” sê Gogo. “Ek kan nie hoor wat hulle op die radio sê nie. Toe, kom ons luister na my gunstelingprogram.”

Almal bly stil en luister. Skielik hoor hulle hoe die omroeper die naam van hul park sê.

“Sjoe! Ons park is bekend!” sê Neo.

“… en Tiniso, ook bekend as Tin, sal vanmiddag by die park saam met die We Can Band optree. Kunstenaars van Zimbabwe, Nigerië en Malawi sal ook deel wees van die vertoning. Almal is welkom om in die pret te kom deel!” sê die omroeper.

“Gogo,” sê Neo, “het jy gehoor? Hulle sê almal is welkom. Kan ons asseblief gaan? Asseblief?”

Gogo kyk na Neo en glimlag. “As Josh en Hope ook mag gaan, dan mag jy gaan,” sê sy. Josh en Hope is so vinnig soos blits by die deur uit om hul ouers te gaan vra of hulle na die partytjie in die park toe mag gaan.

Toe hulle terugkom om vir Neo te kom haal, vertel Hope vir Gogo dat Bella en haar ma ook saamgaan.

“Nou toe dan, weg is julle. Bly naby mekaar,” sê Gogo.

By die park sien Neo vir Bella en haar ma, en selfs Noodle het saamgekom! “Ek dink almal in ons dorp is hier,” sê Neo. “En ’n paar nuwe mense ook.”

“Luister …” sê Josh. “Praat van hierdie mense Frans?”

“Ja!” sê Hope. “En ek hoor ook Chichewa en Shona.”

Neo pluk aan Hope se arm. “Kyk,” sê hy, “Tin is op die verhoog! Maar waar is die We Can Band?”

Voor Hope kan antwoord, gaan staan Tin by die mikrofoon. “Hallo!” sê sy. “IS JULLE REG OM TE BEGIN PARTYTJIE HOU?”

“Ja, ja, ja!” skree die skare.