“Gmff!” brom Sonny vies. “Ek weet hy wil keer dat ons balle oor sy muur trek, maar nou kan hy dit maar laat staan.”

Toe kry hy ’n idee – as al sy maats bymekaarkom en al hulle ouers vra, dan … dalk … kan hulle een laaste krieketwedstryd speel. Hy hardloop om vir Simon te gaan soek.

Die volgende Saterdag heers daar groot opgewondenheid, want Sonny en Simon se plan het gewerk! Vandag gaan hulle laaste wedstryd wees – die grootste, beste krieketwedstryd OOIT! Al die kinders in die straat gaan speel. EN daar is pryse! Party van die ouers maak eetgoed vir almal om tydens middagete te deel. Thumi se pa gaan aan die einde van die dag die pryse oorhandig.
Selfs al is dit net vir die pret, voel Sonny ’n bietjie senuweeagtig. Die skare juig toe Thumi die eerste bal boul.

Jack tree vorentoe. KLAK! Hy slaan die bal so hard dat dit hoog die lug in trek.
Sonny hardloop vorentoe om die bal te vang, maar die son skyn reg in sy oë. Hy trek sy oë op skrefies, wag en beweeg onder die bal in. Almal skree. Toe Sonny sy hande om die bal begin sluit, skiet dit weer uit. Dit bons een keer en rol reguit onder mnr. Peterson se hek in. Sonny se moed sak in sy skoene.

“Wat gaan ons NOU doen?” vra Thumi.

“Ons kan nie aangaan met ons wedstryd nie!” sê Jack.

“Ons sal NOOIT die bal terugkry nie!” kerm Simon.

Sonny haal diep asem. “Ek sal die bal gaan haal,” sê hy.

“Maar mnr. Peterson sal met jou raas,” sê Thumi.

“Hy sal nie die bal vir jou gee nie … en Shikisha het waarskynlik klaar ’n gat gegrou en die bal begrawe!” sê Simon.

“Wel, ek moet probeer,” sê Sonny. “Dis ons laaste wedstryd en ons het nou net begin speel. Ons gaan nie weer ’n kans kry om so te speel nie.”

Dapper maak Sonny mnr. Peterson se hek oop en stap met die paadjie op. Shikisha is nêrens te sien nie. Sonny se maag draai. Hy is bietjie bang. Hy wil nie hê mnr. Peterson moet hom uitskel nie.
Net voor hy by die voordeur kom, swaai dit oop. Daar staan mnr. Peterson. Hy lyk baie groter van naby. Sy wange is rooi en hy is briesend kwaad.