Langstraat is wyd en lank. In die somer, wanneer Sonny en sy maats ná skool huis toe stap, is hulle skoene vol stof. In die winter is hulle skoene vol modder en water. Maar wanneer dit skoolvakansie is, gee niemand om of die straat stowwerig of modderig is nie.

Langstraat is waar Sonny en sy maats krieket speel. Almal kom buitentoe om te kyk, en niemand kla as ’n bal in hulle tuin beland nie. Niemand nie, behalwe mnr. Peterson.

“Hierdie vakansie gaan ons die beste krieketwedstryde speel,” sê Sonny toe hulle een middag huis toe stap.

“JAAAA!” sê Simon en Jack.

“Thumi? Wat sê jy?” vra Sonny.

“Maar wat van HOM?” vra Thumi. Hy beduie na mnr. Peterson se huis. “Jack het al klaar een van sy vensters gebreek.”

“Wat van JOU?” sê Jack. “Jy het al klaar twee van ons balle tot in sy tuin geslaan.”

Hulle weet dat as hulle ’n bal oor mnr. Peterson se muur gooi of slaan, hulle dit nooit, ooit weer sal sien nie. As hulle bal onder die hek inrol, vat sy hond, Shikisha, dit. Hulle staar na mnr. Peterson se huis. Hy is die laaste paar maande in so ’n slegte bui.

“Het ons ’n krieketbal? Ek het gedink hy het almal,” sê Thumi.

“Ek het een,” sê Jack en glimlag, “so kom ons beplan die beste krieketwedstryd OOIT.”

Op die laaste skooldag kan Sonny nie wag om by die huis te kom om krieket te speel nie. Hy is so opgewonde, hy waai selfs vir mnr. Peterson, maar mnr. Peterson ignoreer hom net.

“Hallo, Mams,” roep hy toe hy inkom. Sy ma lees die koerant. Sy is opgewonde.

“Hallo, my kind,” antwoord sy.

“Luister hier. Dis wonderlik. Langstraat gaan nou al die pad tot by die nuwe winkelsentrum strek. Uiteindelik sal daar busse en bushaltes wees, MAAR …” sê sy, “dit beteken ook julle sal nie meer in die straat kan speel nie.”

“WAAAT?” Sonny se hart sak in sy skoene.

Die wedstryd is al klaar beplan! Hy stap weer buitentoe en gaan sit op die stoeptrappies en mor. ’n Harde lawaai laat hom opkyk. Mnr. Peterson staan op ’n leer en maak sy muur hoër deur nog bakstene by te voeg.