Vir die eerste keer verstaan ek wat hulle in die love stories bedoel as hulle sê iemand slaan jou voete onder jou uit.

Die volgende middag kom haal Pierre my vir roomys. Nes hy belowe het. En die roomys is regtig amazing. Nes hy belowe het.

Ons gaan sit op ‘n bankie langs die see om ons roomys te eet. Hy gesels en maak grappies. Daar is nie regtig ‘n spesifieke oomblik dat ek agterkom ek begin ontdooi nie. Voor ek my kom kry, begin ek saamgesels en ek lag vir sy grappe.

Ons gesels oor ons gunstelingboeke. Ons gunstelingmusiek. Oor skool. Oor aardverwarming. Oor sy hond wat uitgesit moes word omdat hy te oud geword het. Oor Calvin & Hobbes-strokiesprente. Oor watter Kersgeskenke ons vir ons gesin gekoop het. Hy wil my eers nie glo toe ek hom sê dat ek op Kersdag verjaar nie.

“Dis verskriklik – dit beteken jy kry net een keer per jaar geskenke! Dan sal ek moet seker maak ek gee vir jou twéé geskenke.”

Flirt hy met my?

Ek is nie seker nie.

Maar as hy flirt, doen hy dit so goed dat dit my glad nie irriteer nie. Ek dink dis omdat hy nie so opdringerig is soos die ou met die rooi swembroek en die sixpack nie. En tog is hy nie regtig skaam nie …

“Wat doen jy môre?” vra hy toe ons ons servette in die drommetjie langs die pad gooi. “As jy wil, kan ek jou die mooiste getypoel wys wat jy nog ooit gesien het.”