“Ek’s Pierre,” sê hy toe ek die lighter vir hom gee.

“Vicki,” sê ek. En ek voel lus om by die voeg: Die Wêreld se Grootste Idioot.

“Jammer oor die grappie,” sê hy. “Van die twee stokkies. My mond is partykeer te groot.”

Ek glimlag skeefweg. “Dis oukei.”

Hy kyk na die boek wat langs my op die muurtjie lê. “To kill a mockingbird. Dis een van my gunstelinge.”

“Omtrent almal doen dit een of ander tyd op hoërskool,” sê ek.

Dit lyk of hy iets wil sê en van plan verander.

“Het julle vanoggend hier aangekom?” vra ek om die ongemaklike stilte te verbreek. Die huis langsaan was tot dusver verlate.

Hy knik. “Dis die eerste keer dat ek julle hier sien. Ons kom elke skoolvakansie hiernatoe.”

Ek trek my skouers op. “Ons huur net die strandhuis.”

“So dis die eerste keer dat julle hier vakansie hou?” vra hy.

“Jip.” Dis nie nodig dat hy weet dis die eerste keer in jare dat ons actually vakansie hou nie.

“As jy wil, kan ek jou die kafee met die lekkerste draairoomys op die dorp gaan wys.” Voor ek iets kan sê, praat hy weer. “Jy kan dit natuurlik self ook probeer kry, maar dit kan jou die hele vakansie vat. Ek kan jou baie moeite spaar. En geld. En tweederangse roomys.”

En sommer net so, sonder dat ek ‘n woord hoef te sê, voel dit of ons ‘n date het.

“Ek moet gaan,” sê hy. “Thanks vir die lighter.”

Hy beduie na die voorblad van To kill a mockingbird.

“O ja, ek wou nog sê – ek het daai boek al op laerskool die eerste keer gelees. My ma doseer letterkunde by die varsity, so daar’s tonne boeke in ons huis. Dis regtig een van my favourites. Ek het my ma se kopie al vir my boekrak geskaai.”