“Jy’s unbelievable, Vicki. Un-be-lievable.” 

Oukei, voor jy dink dis een of ander hunk wat oor my drool … get real. Dis ék van wie ons hier praat. En dis my suster wat praat. En haar woorde drup van die sarkasme. 

“Wat?!” vra ek. 

Melissa lyk regtig uit die veld geslaan. “‘n Genuine hunk van ‘n ou kom flirt openlik met jou. En wat sê jy? Jammer, ek’s nie die sportiewe tipe nie.” 

Jip, guilty as charged. Dis presies wat ek geantwoord het. 

“Hy’t nie geflirt nie,” sê ek. “Hy wou weet of ek volleyball wil speel.” 

Melissa kreun. “Jinne, Vicki, wat wil jy hê – dat ‘n ou jou sommer moet kom vra om te trou?” 

Oukei, so dis amptelik: Ek’s clueless as dit by flirt kom. Ek is verlig toe ons ‘n rukkie later teruggaan huis toe. Ek kyk aspris nie in die rigting van die klomp volleyball-spelers nie. 

Die vakansiehuis wat my pa-hulle gehuur het, is ‘n reuse plek. Dit het ‘n amazing see-uitsig. My ma en pa lyk bly om ons te sien. Melissa was reg – dit lyk regtig of hulle nie weet wat om met hulleself aan te vang nie. My pa se hand bly voel-voel aan sy broeksak na sy selfoon.

Soos iemand wat probeer om op te hou rook en die heeltyd sy sigarette soek. 

“Gaan ons braai vanaand?” vra my pa. 

“Fantastiese idee!” sê Melissa. 

My pa lyk soos ‘n laerskoolkind wat pas ‘n goue sterretjie by sy gunsteling-juffrou gekry het. 

“Ek sal slaai maak!” bied my ma dadelik aan en sit haar tydskrif neer. 

Ek gaan sit buite op die muurtjie met my boek. Die uitsig van hier af is fantasties. Die seelug is koel en souterig hierdie tyd van die namiddag. ‘n Lui rokie begin trek by die braaiplek se skoorsteen uit. 

“‘Skuus ek pla,” sê ‘n stem. 

Ek skrik so groot dat ek amper my balans verloor en van die muurtjie afval. 

“Jammer, ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie,” sê ‘n ou met ligbruin krulhare. Sy stem en sy groen oë is vol klag. “Kan ek dalk vuurhoutjies of ‘n lighter leen?” 

“Ons is nie rokers nie,” sê ek vies. 

Sy gesig is ‘n vraagteken. “Uhm … ons ook nie. Maar my pa wil graag ons braaivleisvuur aansteek. En ons het vergeet om vuurhoutjies te bring.” 

Hy beduie na die rook wat uit die skoorsteen trek. 

“Ek sien julle vuur brand al … Jou pa het seker nie twee stokkies teen mekaar gevryf om dit brand te steek nie, of hoe?”