As ek die heldin in ‘n storieboek was, sou ek myself gehaat het.

‘n Storieboekheldin sou die regte ding doen. Polisie toe gaan en Drikus verkla. Oor wat so amper gebeur het. ‘n Regte heldin sou nie dat hy daarmee weggekom het nie. ‘n Regte heldin sou dink aan al die ander meisies met wie hy dit dalk in die toekoms gaan probeer.

‘n Storieboekheldin sou haarself kon red – sy sou nie twee ouens nodig gehad het om soos prinse in ‘n stupid outydse sprokie tot haar redding te kom nie.

En tog … Ek kan nie help om te wonder wat sou gebeur het as Markus en Pierre nie betyds op ons afgekom het nie. Ek kan nie help om lekker te kry as ek terugdink aan hoe hulle hom behoorlik gefoeter het nie. En ek is nie eens iemand wat van geweld hou nie.

Ek en my heel eerste hangover bly amper die hele Oukersdag in die bed.

Ek kan sien my ma en pa vermoed iets is verkeerd, maar hulle vra nie vrae nie.

Ek bid die heeltyd stilletjies dat hulle niks moet uitvind nie.

Melissa en Markus se gemoedstoestand wissel die heeltyd tussen boosaardig en bekommerd.

“Ek kan nie glo jy was so onverantwoordelik nie, Vicki,” sê Melissa toe sy skelmpies vir my hoofpynpille en lemoensap bring. “Jy behoort van beter te weet as om so baie te drink en saam met ‘n wildvreemde ou in die donker te verdwyn.”

Ek dink sy voel effens skuldig omdat sy my saamgenooi het na die stranddans toe.

Gelukkig kan ek nie na die res van haar preek luister nie. Ek moet opspring toe my ontbyt skielik in my keel opstoot.

Toe ek uiteindelik aan die slaap raak, kry ek die een nagmerrie na die ander.