“Is als orraait?”

Melissa keer my voor toe ek en Drikus pas nog ‘n keer gedans het.

“Piekfyn,” sê ek. Al draai my kop liggies.

Sy kyk ‘n oomblik agterdogtig na my, maar dan glimlag sy.

“Ek is bly om te sien jy geniet jouself ‘n slag,” sê sy. “En hy’s ‘n hunk!” voeg sy met ‘n fluisterstem by.

Sy’s reg. Ek geniet my gate uit.

En ja, op een of ander manier het ek, Vicki Venter, dit reggekry om ‘n volbloed-hunk se aandag te trek. Drikus is snaaks. En sexy. En vir die eerste keer in my lewe voel ek nie soos ‘n nerd nie.

“Nog shooters!” roep een van Drikus se pelle. Ons drink klein glasies vol vloeistof wat soos vlamme in ‘n mens se keel af brand.

Drikus lag bulderend vir ‘n grap en soen my heerlik krapperig in my nek.

Dit klink of die branders al hoe harder in my ore suis. Ek word duiselig toe ek en Drikus weer dans.

“Oeps!” lag hy en keer dat ek val. Sy arms is ongelooflik sterk.

Hy sit sy hand om my lyf en lei my eenkant toe.

“Wat nou?” vra ek met ‘n swaar tong.

“Ek wil jou die mooiste plek op die strand gaan wys,” sê hy.

Maar Pierre het my klaar die rotspoel gewys, wil ek protesteer.

Daar het wolke voor die maan ingeskuif. Die strand is nou donker. Ek is nie seker waarheen ons op pad is nie – die musiek klink reeds ver agter ons. En voel skielik naar en ek kry koud.

Maar dan is Drikus se warm arms om my. Hy trek my langs hom op die sagte sand neer. Hy soen my dat my kop draai. Of nee, my kop draai reeds. Wanneer het hy van sy hemp ontslae geraak? Hy sit my hand op sy harde maagspiere.

Sy hande begin vroetel met die bandjies van my rok.

“Drikus … nee,” sê ek, maar my tong klink dom.

Hy stroop die bandjies van my rok oor my skouers. Alarms gaan dofweg in my kop af. Ek probeer wegbeur, maar hy pen my teen die koue sand vas. Sy mond dwing teen myne.

Dit voel of die miswolke eensklaps voor my verstand padgee.

“Drikus, nee!”

Hy luister nie. Sy lyf is swaar op myne en sy asemhaling is hard.

“Komaan, Vicki …” prewel hy met ‘n dik stem.

“Los my!”

Dan swiep ‘n flits se lig skielik oor ons. Iemand vloek en Drikus se lyf word hardhandig van my afgestoot.

Die wolke voor die maan het ook weggeskuif. Dit voel of die maan soos ‘n groot, nuuskierige oog vir my kyk. Ek sak in ‘n bondeltjie neer met my arms om my bene geklem. En begin huil.