Swart hare. Blou oë.
Dis hy.
Die ou van Redhill.
“Hei … Brent, issit nie?”
Ek draai om. My lyf bewe. My binnekant pols, maar nie van die musiek nie.
“J-j-ja,” stotter ek.
“Ek’s Henri.” Hy hou sy hand uit na my. Ek kyk eers net verdwaas daarna en besef dan dat ek soos ‘n flippen skaap moet lyk. Ek steek my hand uit. Skud syne. Sy oë is die heeltyd vas op my. Ek kyk af.
Wat is dit met my?
Toe weet ek. Ek voel skuldig.
Henri hou nog steeds my hand vas. Te lank? Ek trek myne terug. Hy glimlag skalks. ‘n Mooi glimlag.
Nee!
“Jy het ‘n goeie game gespeel nou die dag,” sê Henri.
“Dankie. Dit was net jammer van daardie laaste duikslag wat ek nie kon maak nie.” Ek kyk weer op.
“Dit gebeur met die beste ouens.” Hy glimlag breër. “So?”
Hy laat die laaste woord in die lug hang. Ek frons. Hy kantel sy kop effens. “Jy is … is jy nie?”
“Sorry?”
“Ek wil maar net seker maak.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
Hy kom stadig nader. Maak dan sy oë toe en bring sy kop nader …
Meteens trek die kamer nouer om my. Ek moet hier uit. Ek stamp hom weg van my af. Nog ouens kom binne. Hulle kyk my aan. “Wat de hel?” sê een.
Ek vlug.
VRAAG: Wat sal jy doen in ‘n ongemaklike situasie in ‘n nagklub?