“Jy is … is jy nie?” Henri se woorde in die nagklub spook by my. Wat dink hy van my?

Ek wil naar word.

Ek is buite die klub. My asem voel dik in my keel. Nita is by my. “Hei, Brent, wat gaan aan?” Sy sit haar hand op my skouer. Ek skud my kop. “Ek bel my ma om ons te kom haal,” sê sy. “Jy lyk regtig nie goed nie.”

My kop is ‘n maalkolk. Ek voel ek is nie in my eie vel nie. Dit het nie gebeur nie. Nie met my nie.

Henri wou my soen. Wat as ek dit gedoen het? Iets in my wou. Iets in my wou nie.

“Jy is … is jy nie?” het hy gevra.

Ja, ek is …

Nee, ek is nie!

Ek is Brent Daniels. Ek het ‘n meisie. Soort van. My lyf is taai van rugby. Die een spier op die ander. Ek is ‘n regte man. Dis wat Kevin ook gesê het. Dís wat ek is. Ek hou van sport. Ek vloek. Ek hou van bier. Ek swaai nie my heupe as ek loop nie. Ek fladder nie my oë nie. Ek swaai nie my hand in die lug rond nie.

Ek is ‘n man!

Maar tog.

“Jy is … is jy nie?” het Henri gevra.

WAT DINK JY: Hoe lyk ‘n “regte man”? Hoe tree ‘n “regte man” op?