“Jy is anders deesdae,” sê Nita vir my by die skool.

“Ag, ek dink maar net.”

“Waaroor?”

“Stuff.” Ek kan haar nie vertel ek wonder of ek gay is nie. Ek kan haar nie vertel van Henri nie. Sy sal nie verstaan nie. Niemand verstaan sulke goed nie. Hel, ek verstaan dit self nie eens nie. Dis net ‘n ding wat ek in my lyf voel. Jare lank al, eintlik. Maar ek het dit probeer wegredeneer. Alle ouens kyk na mekaar. Maar dit beteken niks nie. Dis ‘n fase waardeur jy gaan.

Nita sit haar hand om my lyf. “Ek het gewonder,” sê sy sag. “Ons sien mekaar nou al ‘n ruk. Dink jy nie dis tyd dat ons dinge … jy weet … ‘n bietjie verder vat nie?”

Ek kyk in haar oë. Ek weet wat sy bedoel.

“Is jy seker?”

“Ja. Ons kan mos iets gebruik. En ek is ook al lank al op die pil.”

“Dit gaan nie net oor babas nie,” sê ek.

“Ek weet.”

“Dis oor emosies ook. Mense moet iets vir mekaar voel.”

“Maar jy is mos lief vir my?”

My binnegoed tuimel oormekaar. In my kop skree die onsekerheid.

Gay/straight. Straight/gay.

“Ja,” sê ek sag. “Ek is lief vir jou, Nita.”

“So, ons gaan dit doen?”

Ek knik. “Die naweek?”

Sy glimlag.

WAT DINK JY: Mag tieners seks hê?