Henri het iets in my gesien. Wat is dit? Ek staan kaalgat voor die badkamerspieël. Ek kyk na myself. Wat is dit aan my wat hom laat dink het ek is … anders.

Ek vat aan my lyf. Voel die sagte baardstoppels. Die hare op my bors. Die bulte van my sixpack. Af ondertoe.

Ek wens ek het geweet hoe ek dít wat hy gesien het, reg kan maak.

Waar is die andersheid?

Gay.

Dis wat hy dink. Hy dink ek is gay.

Sien hy dit in my oë?

Ek kyk en kyk en kyk.

Maar al wat ek sien is myself. In my agterkop weet ek daar is meer aan my as wat ‘n mens van buite af kan sien.

“Is iets fout?” vra my ma aan die ontbyttafel.

“Nee, niks nie. Ek’s oukei,” antwoord ek.

“Het jy siek geword laasnag?” vra my pa ook nou. “Jy was vroeër by die huis as wat jy gesê het jy sou wees.”

“Ek het naar geword. Niks ernstig nie.”

My pa sit sy messegoed neer in sy bord. “Het julle gedrink?”

“Net koeldrank, Pa. Dit was ‘n under 18’s party.”

“Moet ek jou dokter toe vat?” vra my ma. Haar hand is koel op my voorkop.

‘n Dokter sal nie kan help nie, Ma, wil ek sê. Dalk ‘n sielkundige. Maar ek wonder of hy in hierdie deurmekaar kaste in my kop sal wil krap.

“Nee, Ma. Ek is fine,” sê ek.

Ek lieg.

WAT DINK JY: Kan ‘n mens sien of iemand gay is deur net na hom/haar te kyk?