Eendag lank gelede was daar drie varkies. Hulle was die soetste varkies op aarde, maar daar was iemand wat hierdie varkies bitter kwaad gemaak het en haar naam was … Rooikappie! Sy was die naarste en ongeskikste persoon ooit! Sy was so erg, sy het die wolf in Raponsie laat skrik!

Een dag gaan swem die drie varkies saam met Gouelokkies in die dammetjie. Plons! Die gruwelike Rooikappie spring in die dammetjie en die hele wêreld is onder water.

“Agge nee! Ek het vanoggend my hare droog geblaas!” skree Gouelokkies.

“Lekker!” lag Rooikappie. Sy spring uit die dammetjie en hardloop weg.

Die volgende oggend loop die varkies na Gouelokkies se huis toe. “Gouelokkies! Kom, vandag gaan ons deur die woud stap,” roep hulle.

Uit die bottoe huisie hoor die varkies ’n stem. “Ek kom!” En hulle weet dadelik die dag gaan vol avontuur wees.

Gouelokkies en die drie varkies gesels te heerlik toe hulle in die woud begin stap, maar skielik hoor hulle ’n baie groot stryery iewers daar naby. Hulle loop vinnig na die stryery toe om te sien wat aangaan. Dit is hulle vriende, ’n klomp vreemde mense en diere en selfs ’n blou krokodil wat stry.

“Hulle wil ons sprokie vernietig! Hulle is nie eens in volksverhale nie! Hulle is legendes!” sê Raponsie, een van Gouelokkies en die varkies se goeie vriendinne en wys na die vreemde diere en mense. Die krokodil sê: “Ons is dalk legendes, maar ons is net hier om te hoor hoekom julle ons gemeenskap se boompies afgebreek het!” skree hy.

Skielik vlieg Uil verby en hy sien hoe die twee groepe stry. Hy vlieg nader aan die grond, gaan sit op ‘n klip en vra: “My kinders wat is hier aan die gang?”

“Ou Oupa Uil, hierdie vernielsugtige mense en diere sê ons het hul gemeenskap se boompies gebreek!” sê Raponsie.

“Het julle die boompies gebreek?” vra Uil.

“Nee! Natuurlik nie!” antwoord Raponsie.

Terwyl almal nog so besig is om te praat, spring Rooikappie agter ’n boom uit. “Ek het julle boompies gebreek!” skree sy.

“Hoekom het jy dit gedoen?” vra Uil.

“Want dit was lekker!” lag Rooikappie.

“Wel Rooikappie nou moet ons jou straf,” sê Uil. Hy neem Rooikappie weg en die twee groepe word weer vriende.

Die vyf vriende – Raponsie, Gouelokkies en die drie varkies – besluit toe om verder te stap. Raponsie trap per ongeluk op iets wat kraak.

“Nee man! Ek het ure lank aan daai huisie gewerk!” skree iemand.

Hulle kyk af en sien ’n kaboutertjie. “Jy is so ’n oulike kaboutertjie!” sê Gouelokkies.

“Wie noem jy ’n oulike kabouter? Kyk hoe lyk my huis nou!” gil die kabouter. Sy gesig is bloedrooi. Hy lyk of hy byna gaan ontplof.

“Kan ons jou help om jou huisie oor te bou?” vra Gouelokkies.

“Nee, nee, nee! Trap eerder. Ek sal dit self doen!” Hy gryp sy bougereedskap – ’n mier met knypers om al gras gelyk maak, ’n duisendpoot met ’n klomp uitgeholde sade en ’n akkedis met bakkies vol sand om die gate vol te maak – en begin bou.

Die vriende stap verder en kom toe op ’n groot boom met ’n pienk deurtjie af. So nuuskierig soos wat sy is, klop Gouelokkies aan die deurtjie.

’n Padda in ’n pienk voorskoot maak die deur oop. “Besoekers! Wil julle iets hê om te drink?” vra die padda vriendelik.

“Ja, asseblief. Ons is baie dors,” sê die varkies. Hulle gaan sit buite op die gras, want die huisie is te klein. Die padda kom uitgestap met vyf glasies. “Geniet dit!” sê sy.

Gouelokkies tel haar glas op. “Wat is dit?” vra sy.

Die padda antwoord: “Dis lekker vliegsappies, vars gemaak met liefde.” Net toe vlieg daar ’n vlieg verby en die padda vang hom met haar tong. “Wie wil nog hê?” vra sy.

“Nee dankie” sê Raponsie half naar.

“Ja, kan ek nog kry?” vra die een varkie.

“Natuurlik” sê sy en loop weer in haar huis in.

“Julle, daar is nie ’n manier wat ek vliegwater drink nie,” sê Gouelokkies.

Die padda kom terug met nog ’n glas vliegsap en gee dit vir die varkie. “Mevrou Padda, die sappies is heerlik, maar ons moet nou weer in die pad val”, sê Raponsie.

“Nou goed dan, vat ’n glas sappies saam,” sê die padda.

“Nee dankie, ons is reg”, sê almal behalwe die een varkie.

“Dankie tannie, ek sal nog ’n potjie vol vat,” sê hy. Die padda bring ’n potjie vol sap en gee dit vir hom en hulle begin weer stap.

Hulle almal voel naar na die ‘vliegwater’ en die een varkie proe-proe aan die vliegwater in die potjie.

“Hoe kry jy daai goed in jou lyf?” vra Raponsie.

“Dis lekker man!” skree die varkie.

Hulle loop toe in ’n spinnekop met tien oë vas. H’m, lekker kos, dink die spinnekop.

“Middag tannie Spinnekop,” sê die tweede varkie.

“Julle lyk darem baie lekker, ag ek bedoel baie avontuurlustig vandag,” sê die spinnekop.

“Julle … ek dink ons moet by die huis kom, ons moet … um … middagete gaan eet,” sê Gouelokkies bang.

“Tot siens, tannie Spinnekop,” sê die varkies en hulle begin huis toe loop.

“Kom kuier weer, my skaaptjops,” sê die spinnekop.

Hulle kom by die huis en die varkies vra: “So wat gaan ons môre doen?”

Gouelokkies antwoord: “Hoe klink nog ’n woudavontuur?”

En almal antwoord saam: “Dis ’n wonderlike idee!”

***