Agnes

Agnes het haar oë gelig en uitgekyk oor die skool se rugby veld. Dit was enorm. En sy was die een wat dit moes skoonmaak na die sportbyeenkoms. Om ’n skoonmaker te wees by ’n skool soos Prince Albert Hoër was nooit maklik nie. Maar dit was ’n werk wat sy nodig gehad het. Haar kinders se studiebeurse het vir hulle skoolgeld betaal, nie vir hulle kos en klere nie.

Yho, haibo Sis’ Agnes, hoe is dit dat jy nie moeg is na so ’n lang dag nie?”

Agnes het haar lae rug vasgehou toe sy opstaan van die gemors waaroor sy gebukkend gestaan het. Dit was Sindiswa wat na haar geroep het, het Agnes vasgestel toe sy omgedraai en gekyk het.

“Ek is moeg, sisi, maar iemand moet die rommel van hierdie veld skoonmaak,” het sy geantwoord, die vullissak stewig in haar hand. Sy was moeg en styf van die fisiese werk, maar sy was ook bekommerd.

Sipho se ma is na die skool ontbied deur die Hoof. Hy het haar vertel dat as Sipho aanhou laat kom hy skorsing in die gesig staar. Agnes het geweet wat dit vir Sipho en sy ma beteken het om hierdie geleentheid te hê om in ’n goeie skool te wees en uit te blink. Hy kon dit nie nou ruïneer nie. Maar om oor Sipho bekommerd te wees sou nie die situasie verander nie, het sy vir haarself gesê toe Sindiswa nader gekom het waar sy werk.

“Ek is klaar om die seuns se toilette te mop, dus kan ek jou help as jy wil,” het Sindiswa aangebied toe sy sien hoe moeg en sweterig Agnes gelyk het. “Ek het gedink dit sou so vuil soos gewoonlik gewees het, maar hulle het my vandag verras.”

“Help asseblief, nyani, sisi. In hierdie hitte maak hierdie oorpak en handskoene my dood.”

Die twee het begin werk. Agnes het vorentoe gebuk en aanhou om die gras te steek en druk vir nog stukke gemors. Maar met Sidiswa se ekstra paar hande, het dit net nog twintig minute geneem om die hele veld skoon te maak.

Agnes het regop gaan staan en die sweet van haar gesig met die binnekant van haar werksbaadjie afgevee. “Hayi, ons het regtig gewerk nhe! ” het sy uitgeroep. “Al wat ons nou nodig het is die asblikke. Waar het die opsigter dit gesit?”

“Hulle is buitekant die seuns se toilette, sisi.”

Die twee het geen tyd meer gemors en begin om hulle bultende pakke gemors na die linkerkant van die veld te sleep waar die seuns se toilette was. Toe hulle nader gekom het het hulle ’n seun se stem gehoor aan die binnekant – wat in ’n ongewone toon gepraat het. Hulle het in hulle spore gestop.

“Doen dit man!” het die stem geskreeu. Dit het soos een van die skool se ouer seuns geklink. “Of is jy ’n moffie,” het ’n jonger stem geantwoord.

“Ek’s nie ’n moffie nie,” het die jonger stem geantwoord. “Ek wil dit net nie doen nie.”

Terwyl Agnes aanhou luister het het sy kwater en kwater geword. Dit was nie die eerste keer wat sy getuie was van ’n geboelie by Prince Albert nie. Sy het by die toilette ingemarsjeer en geroep: “Laat daardie seun gaan!”

Die drie ouer seuns het geskok gelyk en dadelik die jonger seun losgelaat, wat hulle aan die agterkant van sy skoolhemp vasgehou het. Die seun se broek en ’n bottel Savanna wat hy vasgehou het het na die vloer geval.

“Wat doen julle met hom?” het Agnes gevra, terwyl sy tussen die jong seun en die drie oueres gaan staan het. Dit was een meer boelie-insident wat sy nie sou toelaat nie. Hierdie seuns het daarvan gehou om jongeres by die skool te verneder. Om hulle soos gemors te behandel. Dit het hulle meer in beheer laat voel. Maar Agnes het net daar en dan besluit dat sy dit nie langer sou duld nie. Sy het hulle al van te vore gesien. Hulle was in Graad 11. Die jong seun het gelyk asof hy enigiets tussen dertien en vyftien was; miskien was hy selfs ’n nuwe seun in Graad-8 soos Sipho.

“Jy hoef nie te rapporteer wat jy nou gesien het nie, OK?” het een van die ouer seuns gedreig.

“Los hulle, sisi” het Sindiswa gesê, met ’n bang uitdrukking op haar gesig. “Kom ons vat net die kind en loop.”

Maar Agnes het nie geantwoord nie. Sy was besig met die eerste seun. “Ek sal nie vergeet wat ek gesien het nie. En ons sal sien wat die Hoof hieroor te sê het,” het sy gesê, terwyl sy kwaad na hom gekyk het. Haar aandag het weer na die jong seun verskuif. “Wat laat hulle jou doen, my kind?” het sy hom gevra terwyl hy daar staan en bang lyk.

“Hulle…hmm…hulle het gesê dat hulle sal aanhou om my middagete geld te vat as ek nie…in die bottels pie en dit teen die muur gooi soos hulle maak nie,” het hy bang en skaam gesê.

“Wat?!” het sy uitgeroep toe sy na die ander gebreekte bottels en urine gekyk het wat op die vloer naby die muur versprei gelê het.

“Sindiswa, gaan roep die Hoof,” het Agnes vir haar kollega gesê. Een van die ouer seuns het vorentoe getree en haar ru gestamp.

“As jou vriendin dit doen, sal daar moeilikheid wees,” het hy gesis. “Jy is in elk geval net ’n skoonmaker. Jy’s niks nie. Jy is soos die gemors wat jy elke dag optel. Wie sal glo wat jy vir hulle sê?”

“Los haar, Jaco,” het ’n ander een gesê, en voor die seun ingespring. “Ons sal haar ’n ander keer kry.”

“Moenie bekommerd wees nie, ons sal hulle nou rapporteer,” het Agnes die jong seun verseker toe sy hom uit die toilette lei.

“Ons sal julle twee hiervoor kry!” het Jaco agter hulle aangeroep toe hy saam met sy maats weghardloop. “Jy kan hom nie beskerm nie.”

Sisi, ek het die Hoof gekry!” het Sindiswa uitgeroep, terwyl sy van die hoofgebou uitgehardloop gekom het. Agnes het verlig gevoel. Sodra die Hoof daar aangekom het sou sy verduidelik wat gebeur het en die saak sou deur die regte persoon hanteer word.

“Dankie dat julle my daar gehelp het,” het die jong seun met ’n dankbare glimlag gesê, terwyl sy groen oë sy sproetgesig verhelder het toe hulle terugstap na die skool toe.

Agnes het onverwagse geluk deur haar voel vloei. Sy was so bly sy het die seun gehelp. Dit het goed gevoel. En nou was die Hoof in sig. Die dag sou op ’n gelukkige noot na alles eindig.

“Hallo, Tom,” het die Hoof met ’n vriendelike glimlag gesê toe hy Tom se hand geskud het. Hy het omgedraai om na Agnes te kyk. “Sindiswa het my vertel wat gebeur het, Agnes. Ek is jammer jy moes dit deurmaak. Sommige van hierdie seuns kan regtig die grense oorsteek. Ek sal dit probeer uitsorteer. As jy nou na die kantoor toe kom, kan jy hierna huis toe gaan. Neem die res van die dag af.”

“Wat gaan nou gebeur, Meneer?” het Agnes gevra.

“Moenie bekommerd wees nie, maatreëls sal geneem word om daardie seuns te straf en seker te maak dat dit nie weer gebeur nie.”

In die Hoof se kantoor het Agnes, Sindiswa en Tom ’n verklaring afgelê oor wat in die toilette gebeur het.

Agnes het goedkeurend geknik toe hulle klaar was. Sy was vasbeslote om seker te maak dat daardie seuns nooit weer enigiets sou doen wat hulle aan Tom en haar gedoen het nie. Wat as hulle haar eie seun, Mthobeli, soos Tom behandel het? Of Gloria?

Sy het besluit om nie haar kinders van die insident te vertel nie. Sy wou hulle beskerm. Daarby het sy vermoed dat Gloria daardie seuns sou soek as sy haar vertel en dat sy dan in die moeilikheid sou beland het. Die Hoof het gesê dat hy dit sou hanteer. Sy moet hom vertrou dat hy dit sal doen. Die seuns sou boet vir wat hulle gedoen het.

***

Vertel ons wat dink jy: Hoekom boelie party mense ander? Op watter manier is sommige mense se waardigheid seergemaak in hierdie hoofstuk?