Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot?
Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?
Dink tog aan u gemeente
wat U lank gelede u eiendom gemaak het,
die volk wat U vir Uself as besitting verkry het,
Sionsberg waarop U gewoon het!
Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê,
die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het.
Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink,
en hulle het hulle vaandel daar opgerig.
Dit het gelyk soos wanneer iemand met ‘n byl bosse skoonkap.
Hulle het al die houtsneewerk
met byl en koevoet stukkend geslaan.
Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek,
die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek.
Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.”
En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek.
U openbaar U nie meer aan ons nie,
daar is geen profeet meer nie,
niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie.
Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder?
Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster?
Waarom help U ons nie?
Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie?
God is van altyd af my koning,
dit is Hy wat op die aarde redding bring.
Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het,
U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het.
U wat die koppe van die Leviatan verpletter het
en hom vir die haaie gegee het,
U wat fontein en stroom laat uitbreek het,
U wat standhoudende riviere laat opdroog het.
Dit is U aan wie dag en nag behoort,
U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;
somer en winter is die werk van u hand.
Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here,
‘n barbaarse volk belaster u Naam.
Moet tog nie dié wat deur U onderrig is,
aan hierdie ondiere uitlewer nie,
moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie!
Dink tog aan u verbond,
want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking.
Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie,
red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys.
Kom tog, o God! Laat geld tog u reg.
Dink tog daaraan hoe u eer
dag vir dag deur barbare geskend word.
Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie:
die geskreeu van u teëstanders,
die aanhoudende rumoer van u vyande.
© André Merrington