Nataniël se Kers boodskap:

Wees altyd dankbaar vir alles wat jy het en lewe eenvoudig. Hoe minder goeters jy het, hoe minder worries het jy … en hoe lekkerder slaap jy!

Wees onvoorwaardelik lief vir jou gesin en familie en aanvaar elkeen presies net soos hy/sy daar is … vriende kan jy kies, familie nie!

Moenie toelaat dat jou brein muf met ‘issues’ soos skuldgevoelens of grudges nie … sorteer alle strooi uit nog voor die son sak. So moenie toelaat dat mense jou in die rug steek, nonsens praat en skynheilig optree teen jou nie!

Hardloop jou lewe se spiedometer in die rooi in, help waar jy kan en lewe voluit, terwyl jy nog lewe in jou het; ‘use it – or lose it’!

Geniet die eenvoudige dinge. Die ‘image’-goed en ‘keeping up with the Jones’ is sommer nonsens; hulle (die Jones’) sit in elk geval nou in Ozzie.

Al wys die ‘replay’ duidelik dat hy verkeerd is, maak vrede met die ref se beslissings en jy sal dadelik beter voel!

Kry oefening deur te gaan stap langs die see of in die veld … doen iets in die buitelug, maar moenie in die strate op en af draf nie, dis ‘common’ en maak ander mense skuldig voel.

As jy ‘n ‘no-name brand’ T-Shirt sien wat jy laaik, koop dit … te hel met die name-goed wat jy in elk geval nie kan bekostig nie – solank dit net gemaklik pas. Laat andere maar hul geld mors op goed wat vir hulle vals selfvertroue in hul plestiek-wêreld gee!

Lag dikwels lank en lekker, dit hou jou gesond! Haal diep asem, drink meer water as wat jy moet en kou jou kos fyn. Eet meer van die goed wat mens pluk of uit die grond grawe. Moet nooit alleen alkohol gebruik nie en wanneer jy ietsie vat hou matigheid voor oë … ALTYD!

Behou jou grappige vrinne en vermy die suuriges, hulle is ‘demoralising’ en trek jou af na hulle vlak.

Jou huis is jou plek en daar leef jy soos JY wil, to hell met die snobs, en die beste kar is een wat klaar betaal is!

STEL GOD EERSTE en alle ander goed sal self in plek val, hê geloof!

Sê vir mense dat jy vir hulle omgee, môre trek jy dalk jou hout-jas aan, dan’s dit te laat!