Die ongeluk, 8 Februarie, 1991

In 1991 was Leonard die bestuurder van ‘n meubelwinkel in ‘n klein dorpie, Mount Frere, in die Oos-Kaap. Elke dag het hy van sy huis in Kokstad na Mount Frere gereis om te werk. Saans en naweke was hy ‘n sokkerspeler in Kokstad.

Die dag wat sy lewe verander het, 8 Februarie, 1991, het hy vroeg opgestaan en soos gewoonlik hom gereed vir werk gemaak. Teen sewe-uur was hy al op pad. Terwyl hy gery het, het hy saggies vir homself geneurie. “Teen agtuur is ek in Mount Frere,” het hy vir homself gesê. Die pad was besig. Almal was haastig en baie motors het hom verbygesteek.

Toe hy om ‘n draai gery het het hy skielik beheer oor sy motor verloor. “O God! Wat gebeur nou? Help asseblief, help! Ek gaan sterf!” het hy geskreeu.

Die motor het omgeslaan en hy is uitgeslinger. Dit was die laaste ding wat hy onthou het totdat hy gevoel het dat iemand aan hom skud. “Word wakker! Waar kom jy vandaan? Wat is jou naam?”

Dan Hands Furnishers

Leonard as bestuurder van Dan Hands Furnishers in Mount Frere (1990).

Hy het sy oë oopgemaak. ‘n Vragmotorbestuurder het na hom gekyk. Angstig het Leonard gevra, “Wat het gebeur? Vat die motor van my af.”

Die vragmotorbestuurder het gesê, “Daar is geen motor op jou nie, jong man. Ons gaan jou help. Wat is jou naam?”

“As daar dan geen motor bo-op my is nie, wie sit op my voete? Waar kom al die bloed vandaan?” het Leonard al hoe meer benoud gevra.

Die vragmotorbestuurder het hom gerusgestel en gesê, “Hou uit. Probeer om te onspan jong man. Ons sal ‘n ambulans vir jou ontbied. Dit sal nie lank wees nie, alles sal regkom.”

Intussen het ‘n skare mense by die ongelukstoneel bymekaargekom. Die pad was afgesluit. Almal wou weet wat gebeur het. Die polisie het toe opgedaag en almal beveel om van die toneel af weg te beweeg.

“Wat was die rede vir die ongeluk?” het ‘n polisieman gevra. “Wie was betrokke?”

“Ek is ‘n ooggetuie,” het die vragmotorbestuurder geantwoord. “Hierdie man is ernstig beseer. Ek weet nog nie wat sy naam is nie.”

Die polisieman het Leonard genader. “Jong man, leef jy nog?” het hy gevra. “Kan jy my hoor? Wat is jou naam?”

“Ja, ek lewe,” het Leonard saggies geantwoord. Dit was moeilik vir hom om te praat. “Ek is Leonard Gregory. Neem my asseblief gou hospitaal toe. Ek sterf!”

Hy kon hoor hoe vrouens in die skare vir hom bid. Teen die tyd het die ambulans ook opgedaag. Hulle het hom in die ambulans geplaas en hom na ‘n hospitaal in Mount Frere gehaas.

Daar was ‘n lang tou by die hospitaal. Sommige mense was op die vloer, sommige van hulle het selfs in poele bloed gelê. Leonard kon hoor hoe hulle kreun van die pyn. ‘n Verpleegster het na hom gekyk en haar kop geskud. Hy het hewig gebloei, maar die verpleegsters kon hom nie help nie, omdat so baie mense aandag nodig gehad het.

“Kan ‘n ambulans my nie na ‘n ander hospitaal toe neem nie?” het hy met ‘n hees stem gesmeek. ‘n Verpleegster het na hom gekyk en haar kop geskud.

Ambulanse uit die Transkei was nie togelaat om pasiente na hospitale buite die Transkei te neem nie.

Gelukkig het die verpleegsters ‘n motor gevind wat hom toe na Grey’s Hospitaal in Pietermaritzburg geneem het. By Grey’s het die dokters hom ondersoek.

Dit was duidelik dat hy ernstige beserings opgedoen het en hy is onmiddellik opgeneem.