Ek kan nie Peter Cho uit my gedagtes kry nie. Dit het niks te doen met sy gladde olyfkleurige vel en sy donker, geheimsinnige oë nie. Nóg met die manier waarop sy hare middernag swart onder die sitkamerlig geskyn het nie. En ook nie oor sy lyf nie – jy weet daardie opgewende veer voorkoms, asof iemand reg is om toe te slaan? Of ten minste regtig vinnig te beweeg? Hoofsaaklik kan ek nie ophou dink hoe hartseer hy gelyk het nie, asof hy gewens het hy hoef nie hier te wees nie, om sulke slegte nuus te bring. Ek het ook hartseer gevoel. Ons het almal. Dit was asof Melissa teruggesleep is in die lewe in, saam met die pyn wat Ouma en Oupie gevoel het toe sy verdwyn het. Al die rou vrees en die trane.

Ek kan ook nie ophou dink aan Mnr. Cupido nie. Hy het gewoonlik na Ouma en Oupie gekom en vir hulle tuisgekweekte groente gebring, die Sunday Times aangegee as hy daarmee klaar was, sodat Ouma die blokkiesraaisel kon doen. Hy het ’n spesiale punt daarvan gemaak om op elke herdenking van Melissa se verdwyning met blomme vir Ouma en biere vir Oupie en hom op te daag. Hulle sou buite op Melissa se bank sit en na die foto kyk en praat oor al die wonderlike dinge wat sy gedoen het en hoe ’n gelukkige meisie sy was.

Later, nadat ek gebore is, en my ma weggeloop en my hier gelos het, sou ek op Oupie se skoot gesit en luister het na hulle, en Mnr. Cupido sou dinge sê soos, “Sy mag weg wees, my liewe vriende, maar daar is nog hoop dat sy iewers is.” Het hy hom verlekker toe hy gepraat het? Kon enigiemand so wreed wees?

Dus het Oupie en Ouma gevoel hulle wou niks doen nie, maar ek het gevoel ek moes iets doen. Ek kon dit nie los nie.

Praat van dinge wat in jou gedagtes werk. Ek het gespring elke keer as ek ’n skaduwee gesien het. Die wind in die bome het bang en dreigend geklink en ek het gevoel asof ek dopgehou word, dat daar oë orals was. Miskien is dit die soort ding wat gebeur as spoke kom kuier. Hulle skud die lug en laat alles verskillend ruik en klink en voel. Was dit Melissa? Het sy gewag om te sien wat sou gebeur, wat ons sou doen?

Wel, na ’n paar dae kon ek haar sê. Niks. Nada. Nothing. Zilch. Die lewe het teruggeval in dieselfde ou roetine. Skool, huiswerk, TV, Facebook, eet slaap. Ek sou waarskynlik terugkyk op hierdie dae en wonder waarom ek dit nie meer geniet het nie. Neem die kans om al die dae om te slaap en niks te doen nie. Maar nie nou nie. Nou is al wat ek wil hê antwoorde.

Ek het die huis langsaan begin dophou, waar Selvin bly. Die ander Cupido –die seun van ’n moordenaar. Ek het nooit moeite gedoen om hom raak te sien voor hierdie gebeure nie. Hy’s net ’n plomp, vet, klein middeljarige mannetjie.

Maar eintlik – miskien is ek hipersensitief, so bewus van wat Peter Cho oor sy pa gesê het – maar daar was iets af oor hom. Dis nie my verbeelding nie, ek weet dit. Wanneer ek in my kamer is kan ek sy kom en gaan baie duidelik sien. Hy gaan werk toe. Soms gaan hy uit in die aande – waarskynlik raadsbesigheid. Maar as hy eers binne is, bly hy daar. Die vensters en die swaar gordyne is ook altyd toe. En niemand kom hom ooit besoek nie. Die een keer wat ’n vrou by die huis aangekom het, het hy buite op die stoep met haar gepraat. Hy het papiere by haar geneem en vir haar totsiens gewuif. Nie baie sosiaal nie. OK, OK, dis nie gronde vir suspisie nie; mense wat alleen bly kan ’n bietjie in ’n groef verval. Maar wat hiervan? Ek’s ’n oggendmens – vyfuur, vyf dertig, en ek’s wakker. Op, uit my bed en reg vir my stort. Een oggend het ek sy motor hoor ingaan in sy garage. Die volgende oomblik sien ek hom ’n graaf in sy tuinskuur sit. Wie doen tuinwerk in die middel van die nag vra ek julle?

Wie is Selvin Cupido? Is hy ons goeie buurman en gawe raadslid? Ek doen die somme hier. Hy moet in sy veertigerjare wees. Wat beteken dat hy twintig-iets moes wees toe Melissa verdwyn het. Oud genoeg om te weet of sy pa met iets besig was. Om die waarheid te sê, oud genoeg vir enigiets. Ek’s jammer. Ek gee nie om dat Oupie sê dat die verlede begrawe moet bly nie, ek wil ’n bietjie ondersoek instel. En weet jy wat? Ek gaan nie alles op my eie doen nie. Peter Cho het met die hele ding begin. Die minste wat hy kan doen is om dit met my klaar te maak. Ek gaan hom môre bel en hy beter ja sê.

Dus het ek Peter Cho gebel. Ek moet sê hy kon gelukkiger geklink het toe hy met my gepraat het. Ek bedoel my hart het ’n snaakse klein wriemel gemaak toe ek sy stem weer hoor. Ek het vergeet om dit te noem, het ek? Hy het een van daardie lae, oud voor hulle tyd stemme, growwerig. Dis seker omdat hy ’n roker is. Ek het dit aan sy klere geruik die ander aand. Definitief ’n gewoonte wat hy sou moes los as –

OK, terug na ons gesprek. Dit was nie asof ek met die deur in die huis kon val en hom vra om op Selvin Cupido se huis langsaan te spioeneer nie. Hy sou gelag het en my stil gemaak het. So inplaas daarvan, jammer om te sê, het ek ’n bietjie emosionele afpersing gebruik. Alles oor hoe ek nooit vir Melissa geken het nie, die skaduwee wat by ons lewens gespook het, en hoeveel ek na haar gelyk het, en miskien was daar goed oor haar wat hy onthou het. En hoe ek gevoel het sy was nie te ruste nie . Kon ons ontmoet, net om weer daaroor te praat? Ek het aanhou en aanhou babbel; dit gebeur as ek gespanne is. Daar is nie ’n pouse knoppie nie.

Toe hy uiteindelik ’n kans gekry het om te praat, was sy stem sagter. “Ek kan haar ook nie uit my gedagtes kry nie,” het hy gesê. “Kom ons ontmoet.”

“Koel,” het ek gesê”. My hart het gejaag.

Ek het van die idee gehou om Peter Cho weer te sien. Ek was nie te seker hoe hy egter sou voel oor ek hom gefop het om my weer te ontmoet nie. Ek sal dit takel as ek hom weer sien.

***

Vertel ons wat dink jy: Wat is al die redes waarom Charlene weer vir Peter wil sien?