Om die grens oor te steek was ’n nagmerrie. Daar was skares mense so ver as wat jy langs die paaie kon sien, wat alles wat hulle kon met hulle saamgedra het, terwyl hulle vlug. Dit het gelyk asof die hele land besig was om homself in ’n ander land in leeg te maak. Dit was ’n menslike rivier van mense. Sommiges was besig om slaapmatte en kookpotte te dra, en kinders wat skaars kon loop van uitputting, te trek. Sommiges het gevoude matrasse op hulle koppe gedra; ander het bondels gehad van wat hulle ookal met hulle kon saamdra. Daar was diegene wat hulle bokke en skape met hulle saamgetrek het en ander het selfs koeie by hulle gehad. Behalwe vir die enkele geblêr, gemoe en kinders se gehuil, was die lug amper stil. Mense het met onrus gewag vir wat vir hulle voorlê.

“Kan dit regtig gebeur? Is dit werklik?” het Jacques se vrou, XXXXX gesê, in ’n uitbarsting van snikke.

“Dit lyk werklik,” het Ma stadig gesê, en haar op die skouer getik. “Maar dis erger as ’n slegte droom.”

“Ek het nooit gedink ek sou ’n vlugteling word nie. Ek het nooit gedroom dat ek ooit my land sou moes verlaat nie,” het Jacques se vrou aangegaan, en die trane met die kant van haar gitenge (sjaal) afgevee.

“Ek het nooit gedink ek sou ooit van Xavier geskei wees nie,” het my ma geantwoord. “En hier is ek, en ek weet nie waar hy is nie. Ek weet nie of hy nog lewe nie.” Sy het ook trane met haar hand afgevee.

Toe sy hierdie woorde gesê het, het ek en Claire ook in trane uitgebars. Ek het aan Louis gedink. Hy moet iewers in hierdie lang tou van mense en diere en motors wees wat so stadig soos slakke na die grens toe beweeg. Sou ek hom ooit weer sien? Hy het soos ’n skadu geraak wat homself gewys het en dan weer agter die wolke verdwyn het, aan die lot van die weer oorgelaat.

“Jammer, ek wou julle nie ontstel nie. Maar … kom ons wees sterk en hou ons hoop lewend,” het my ma stil ten slotte gesê.

Dit het ons die hele dag geneem om Goma te bereik, die naaste dorp in die DRK.

Ek het verward gesien hoe die soldate in die DRK ons matrasse en die helfte van ons besittings weggeneem het toe ons die grens oorsteek. Ons het alreeds so baie verloor, en nou is ons van meer beroof, in die plek waarheen ons na veiligheid gevlug het.

Mugunga-kamp vir vlugtelinge was soos ’n stad. ’n Stad van tente. Sommiges was van seil, ander plastiek, met groot letters daarop: UNHCR. Die kamp is opgestel deur die Verenigde Nasies se Vlugteling Agentskap. Die tente was so naby mekaar dat daar skaars genoeg plek was om asem te haal.

In ons klein tentjie, ingedruk langs my suster en ma op ’n mat, het ek gedink aan my slaapkamer in ons huis in Kigali. Die kamer wat ek met my sussie Claire gedeel het. Ek het aan een van die prente op die muur gedink. ’n Prent van skoolkinders wat agter ’n bal op die speelgrond aanhardloop. Sou ek weer kon studeer? Ek het aan ons tuin gedink waar ek en Claire altyd rose gepluk en geruik het voordat ons dit in ’n vaas op ons eetkamertafel gesit het. Toe het ek aan ons pa gedink. Daar was nog steeds geen nuus oor hom nie. ’n Groot knop het in my keel gevorm en ek het gesukkel om die gedagte uit my kop te kry. Dit was ondraaglik.

Die volgende verwoesting was die cholera-siekte, van vuil water. Dit het soos rook in die wolke versprei, wat baie lyke in die straat laat lê het voordat hulle vir begrafnis deur hulporganisasies weggeneem is. Ek het ’n gesonde seuntjie sien speel langs ons tent. Die volgende dag het ek gesien hoe hy aanhoudend braak terwyl sy ma probeer het om hom uit ’n koppie te laat drink. Sy het ook sy doeke bly ruil, en ek kon vlieë sien rondvlieg.

“Byarangiye.” (My klein broertjie is dood.) Sy oudste suster was in trane toe sy ons die nuus laat daardie aand vertel het. My ma het haar omhels en haar probeer troos.

“Ek sal vannag by hulle bly. Lekker slaap,” het Ma gesê toe sy die meisie na haar tent gevolg het. Gedurende die nag kon ons die lied Twaremewe kuzajya mu Ijuru (Ons is almal geskape vir die hemel) en ander hartseer liedere van daar af hoor opklink in die lug.

Wat as ek die volgende persoon is om dood te gaan aan cholera? Ek was so bang na die dood van hierdie buurman. Ek het na my broers se tent gegaan. Die maanlig was dof asof daar wolke in die lug was.

“Philippe, laat my inkom.”

“Wag … wat soek jy hierdie tyd van die nag” het hy gevra, nadat hy die kers opgesteek en die toue van die tent losgemaak het.

“Ek kannie sit en wag om die volgende slagoffer van cholera hier te wees nie. Kan jy? “Ons moet hier uitkom.”

“Wat is jou plan?” het André gevra. Hy het ook wakker geword.

“Dis hoekom ek hier is. Ons moet ’n plan maak.”

“ Kom ons gaan Zambië toe. Ek hoor dis ’n goeie land, ” het Philippe voorgestel.

“Miskien kan ek daar studeer en my droom volg om ’n verpleegster te word,” het ek saamgestem.

“Laat ons nie tyd mors nie. Ons kan môreoggend vertrek,” het André ferm gesê.

“Ma, ons moet hier weggaan.” Philippe se stem was desperaat toe hy die volgende oggend met Ma gepraat het toe sy van die waak af teruggekom het. Ek het na my broer gekyk wat altyd so kalm is, maar nou van vrees gebewe het.

“Waarheen wil julle nou gaan?”

“Zambië,” het ek vir haar gesê.

“Ek dink jy’s reg. Dit ruik na die dood hier,” het Ma gesê. “Ek bly egter by Claire. Ek’s te moeg van die slapelose nag, en Claire is nog te jonk om nog ’n lang reis per voet deur te maak.”

My ma het vyftig dollar in my handpalm gedruk. “Hou dit veilig, jy sal dit nodig kry.” Sy het ook geld vir my broers gegee.

Ek was besig om geld in ’n stuk lap vas te werk toe ek ’n bekende stem buite ons tent gehoor het – ’n stem wat my van vreugde laat skreeu het.

“Kan ek jou byl leen? Ek het dit nodig om vuurmaakhout te kap.”

Ek het uitgehardloop en Louis daar sien staan. Ons het skaam omhels. Ek het vir hom gesê dat ons nie ’n byl het nie maar dat ek saam met hom na sy tent sal gaan om te sien waar hy bly.

“Kan ek jou iets vra?” het ek in ’n sagte stem gesê, ’n ent weg van ons tent af. “My broer en ek is oppad na Zambië. Wil jy saam met ons kom? Ons vertrek oor ongeveer ’n uur.”

Toe ons sy tent bereik het, het ek aangedring: “Jy moet gou maak. Ons sal jou binnekort kom kry, wees op die uitkyk vir ons.”

My ma het vir my ’n sak gepak vir die pad: ’n paar kledingstukke, ’n ekstra paar skoene, en ’n ekstra igitenge.

“Jy sal dit nodig kry as jy moet aantrek as jy by die seuns is,” het sy gesê en dit netjies opgevou voordat sy dit vir my gegee het.

“Dankie, ma. Dis baie gaaf van jou.” Ek het haar hande vasgehou; ek wou hulle nie los nie. Dit het my hart gebreek om haar te verlaat. Eers my pa en nou my ma. Ons het gebid vir ’n veilige reis en vir my pa. My ma, Claire en ek het mekaar vasgedruk met omhelsings.

“ Familie staan altyd saam, maak nie saak wat gebeur nie.” Ek kon my pa se woorde weer hoor terwyl ons van ons tent weggeloop het om Louis te gaan haal, en om dan weer in die onbekende in te loop in die vars vroeë môre.

***

Vertel ons wat dink jy: Wat sou met Odette, Louis en haar broers gebeur terwyl hulle probeer om Zambië te bereik? Moes hulle by hulle ma in die kamp gebly het?