Ek sit op die kant van my bed. My voete klop van die vyf en veertig minute stap vanaf Parow-treinstasie met my swaar inkopiesakke na ons twee-slaapkamer huis vir vanaand se Nuwe Jaar feesvieringe. Ja, oor ’n paar uur sal ons die oujaar klaarmaak. Moet ek opgewonde wees oor die Nuwe Jaar? Miskien ja. Miskien nee. Noudat die inkopies klaar is, kan ek ten minste my seer voete laat rus. Hierdie voete wat my oor duisende kilometers oor baie lande gedra het, verdien om gesoen te word. Ek het my lewe aan hulle te danke. My voete behoort hulle eie bladsy te hê in die Guinness Rekordboek. Ja, in ’n boek van rekords!

’n Golf van verlange spoel oor my as ek aan my tuisland, Rwanda dink. Ek moes uit my land uitvlug toe ek slegs veertien jaar oud was. Ek besluit dat hierdie laaste dag van die jaar ’n dag van onthou vir my sal wees. ’n Tyd om my te herinner waar ek vandaan kom. Dus haal ek een van die min foto’s wat ek van Rwanda het uit.

Dit is geneem by ons huis in die hoofstad, Kigali in Julie. Gedurende daardie maand is dit warm in Rwanda, so warm dat klein kindertjies kaal in die straat loop.

Daar staan my pa, langer as ons almal. Wat ’n groot baard het hy nie, dit steek amper ’n skewe glimlag weg! Ek onthou die woorde wat hy altyd gesê het: “ Familie staan altyd saam, maak nie saak wat gebeur nie.”

Ek laat ’n diep asemteug los. Ek voel hoe warm trane my wange natmaak.

In die foto lyk die grasperk voor ons huis soos ’n groen mat. My pa, Xavier staan in die agterste ry, my ouer broers André en Philippe aan beide kante van hom. Aan die voorkant lyk my ma, Valérie moeg, miskien na haar lang dag van werk as verpleegster. My suster Claire en ek laat ons hande op Ma se skouers rus.

In die foto dra my broers koel T-hemde, kortbroeke en sandale. Claire dra ’n moulose vlootblou kortmou rok, met klein wit kolletjies. Ek dra ’n oranje hemp, ook kortmou en ’n eenvoudige wit romp. My ma het ’n groen blomrok aan, met ’n breë wit seintuur.

Die avokadopeerboom waaronder sy staan is oorlaai met vrugte. Dit kon die hele dorpie voed. Die rooi rose, die pruim- en papajabome vul die res van die tuin in.

Slegs ’n gedeelte van ons drieslaapkamerhuis kan gesien word – dié huis wat my pa gebou het. Ek onthou die dag toe hy teruggekom en met ’n reuseglimlag op sy gesig aangekondig het:

“ Ek het ’n lekker erf in Muhima gekry. Ek wil dit koop en my eie huis bou. Ek kannie vir ewig huur nie.”

“Het jy die lotto gewen?” het Ma gevra, mond en oë wyd oop.

“Ek het geweet jy sou my nie glo nie. Dit sal tyd neem, maar ons sal een bou”, het hy selfversekerd gesê.

So, na twee jaar was die drieslaapkamerhuis klaar. Claire en ek het ’n kamer gedeel, André en Philippe het die ander kamer gehad en die derde een was vir my ma en pa.

Dit is vier en twintig jaar gelede sedert daardie foto geneem is. Soveel dinge moes gedurende daardie tyd in die land van my kinderdae gebeur het.

’n Land so klein, dit is soos ’n kolletjie op die kaart van Afrika – maar dit is in sy hart. ’n Land met blink mere en welige groen rollende heuwels, en baie riviere wat deur daardie heuwels vleg, berge en valleie. Daar is geen winters daar nie. Die weer is die heeljaar deur warm. Sommige mense het dit “die land van ewige lente” genoem.

Ons huis in Rwanda was vol liefde. Elke aand het ons saam by die eetkamertafel gesit om na die 7uur nuus op Radio Rwanda te luister, terwyl ons my ma se heerlike kos geëet het.

Een aand in Oktober 1990, drie maande nadat die foto geneem is, het ons soos gewoonlik rondom die eetkamertafel gesit en na die nuus geluister. Ma het my gunsteling dis voorberei. Ek kan nog die stomende hoender wat na knoffel ruik en die soetpatats en ertjies langs dit op my bord onthou. Ek was toe tien jaar, nog in die laerskool. Ek wou ’n verpleegster word soos my ma. Claire was agt jaar, en ook in die laerskool. My twee broers was in kosskole, ver van die huis af.

Ons het na die stem van die nuusleser in geskokte stilte geluister. Ek dink orals in Rwanda was mense stil toe daardie uitsending gemaak is. Dit was ’n monsteragtige stilte wat vrees en ongeloof geskreeu het.

“ Tutsi bannelinge het die Noorde van Rwanda vanuit Uganda aangeval. Baie mense is dood, ander het uit hulle huise gevlug.” Die uitsaaier se stem was onvas, vol emosie. Claire, ma en ek was in trane. Ma het elkeen van ons styf vasgehou.

Wat as hierdie oorlog versprei? Wat as dit ons huis bereik? Hierdie gedagtes het my kop bly pla.

“Philippe en André?” Ma het na Pa gekyk met vrees in haar oë. As daar oorlog was moes hulle tuis wees. Ek het geweet dat sy so dink. Sy wou ons almal naby mekaar hou.

“ Kom ons raak nie nou paniekerig nie. Ons sal die nuus volg. Op daardie manier, as dinge erger raak, sal ons weet.”

Daardie radio-uitsending was die begin van slegte dinge wat sou kom. Al waaraan ek toe kon dink, is ek skaam om nou te sê, was nie my broers wat op kosskool was nie, maar Louis. Hy was my vriend. Nie ’n kêrel nie, ons was te jonk daarvoor, maar hy was my beste vriend. Op Saterdae het ons gewoonlik saam by die rivier gaan visvang. Ons het geheime met mekaar gedeel. Ek het daardie aand gewens ek kon met hom praat oor die slegte nuus. Hoe het hy gevoel oor hierdie oorlog? Was hy so bang soos ek was?

***

Vertel ons: Hoe dink julle voel dit om geforseer te word om jou gelukkige huis te verlaat? Sal Odette se broers veilig huis toe kom?