Dit het nie lank gevat voor Sicelo ons uitgevang het en ons by die oomblik van waarheid uitgebring het nie. Ons verhouding het so vurig geword dat ons dit amper geniet het om risiko’s te neem en op die rand van die afgrond te leef.
Een dag is ons in Nomtha en Sicelo se kombuis. Nomtha is besig om te kook en ek staan reg agter haar besig om te “help” en om haar nou en dan te soen. Dit is terwyl ek haar een keer so soen, wat Sicelo daar aankom. Hy het vroeg huis toe gekom van ’n besigheidsbesoek aan Durban.
“Wat gaan hier aan?” roep Sicelo kwaad, sy stem bewend.
Dit skok my so, ek kan nie ’n woord uitkry nie. Die groot man voor my is nou amper soos ’n kind. Hy is ná aan trane.
“Sicelo, dis nie wat jy dink nie,” sê Nomtha. Sy huil en smeek klaar.
“Dis nie wat ek dink nie? Julle soen halfkaal in my kombuis! Dink jy ek stupid?” skreeu hy en storm op ons af. Hy lig sy hand asof hy vir Nomtha wil klap. Hy stoot haar eenkant toe en sy val op die vloer neer. Toe mik hy na my.
Ek hardloop om na die ander kant van die kombuiseiland. “Sicelo, kalmeer, ek kan verduidelik,” sê ek soos ’n bang seuntjie en op daardie oomblik is ek een.
Ek het hierdie groot man met haat in sy oë wat soos ’n woedende bul op my afstorm. Ek beter bang wees. Ek spring uit sy pad, maar my voet haak vas aan my hemp wat op die vloer lê en ek slaan neer. Teen die tyd wat ek weer opstaan, is Sicelo reg langs my.
Hy slaan my met sy vuis, my kakebeen klap en dit word swart voor my. Hy slaan my weer asof hy my wil by bring.
Toe hy weer wil slaan, hardloop Nomtha nader om my te beskerm. Sy trek hom weg van my, maar hy stamp haar en sy val op die vloer neer.
“Sicelo, stop!” gil sy.
Hy slaan my weer en weer, asof Nomtha se woorde sy woede aanvuur.
“Sicelo stop! Ek het Luphelo liefgehad lank voor ek jou ontmoet het, voor hierdie fake huwelik,” skreeu sy so hard sy kan. Dis asof sy nie net om my lewe smeek nie, maar ook om hare.
Sicelo stop en laat sak sy kop in wat ek as vernedering of oorgawe interpreteer.
Ek kry dit reg om op te staan en weg van hom af te beweeg, sodat ek kan asemskep. “Ek is jammer,” sê ek.
My verskoning vuur hom blykbaar van vooraf aan en hy storm weer op my af. Die volgende oomblik val hy oor sy voete en sy kop tref die granietblad van die toonbank. Daar is ’n aaklige kraakgeluid en hy slaan op die grond neer.
Ek val op my knieë by hom neer en hou sy kop in my hande vas terwyl bloed uit sy hare stroom. Ek gryp ’n vadoek om die bloeding te keer, maar dis te laat. My broer is dood.
***
Vertel ons: Hoe sou jy gereageer het as jy Sicelo was?